Die Kerksaal in Eerstelaan is Dinsdagmiddag 25 Maart 2025 deur die flukse dames van VLV-Kleinmond se Openbare Sake-portefeulje in ‘n kleurvolle vakansiebestemming omskep vir die middag se vol program. 

Deur sy wye skakeling in die musiekbedryf kon Thinus Ries daarin geslaag om die VLV-gehoor te verras en bederf met ’n optrede deur die bekende en gewaardeerde sanger, Stef Kruger.  Die 2025-tema vir die Vroue-Landbouvereniging van Kaapland  is “Kleur jou lewe.” Stef Kruger  het hierdie tema onbewustelik perfek uitgebeeld met sy kleurvolle uitrusting.

Die waarderende gehoor het fyn geluister na die raak beskrywende woorde en stories van sy liedjies wat hy met oorgawe gesing het, terwyl hy terselfdertyd sy kitaarspeltalent ten toon gestel het. Sy musiek het ‘n onvergeetlike ervaring geskep wat die gehoor diep geraak het. 

Hermien van Zyl en Johanlie Bock het albei die voorreg gehad om na Bali te toer. Johanlie Bock het, met toeligting van video’sbreed-voerig vertel van Bali, ‘n Hindoe-groepering wat deel vorm van Indonesië, ‘n Moslemland wat in die Suidelike halfrond van Suidoos-Asië geleë is. Behalwe rys, word daar in Bali baie vars groente en vrugte geëet en geoffer. Hulle tee en koffie is ook welbekend en die gasvroue van die middag het van hierdie items, soos satay, bedien as  heerlike versnaperings ná die vergadering. Heelwat waagmoedige lede het Kopi Luwak geproe, die wêreld se mees eksklusiewe koffie, as gevolg van sy ongewone produksiemetode. Dit word gemaak van koffiebone wat gedeeltelik deur die Indo-nesiese palm civet verteer en dan uitgeskei word.

“Die kuns van batikwerk is ‘n tradisie in Bali, en behels die aanwending van was en kleurstof om ingewikkelde patrone en ontwerpe op lap te skep.” het Johanlie Bock gesê. Só ook word houtwerkkuns van vader na seun oorgedra.  Die bevolking van Bali is sowat 4,4 miljoen mense en niemand bedel nie, almal beoefen iets wat aan toeriste verkoop kan word. In 2023 het 5,2 miljoen mense Bali besoek. Daar was ‘n tafel vol verskillende aandenkings vanuit  Bali, en die dames was verras  met die vaardigheid van die verskillende handgemaakte kunsvlyt wat uit Bali ten toon gestel was. 

Anmar Marais van Chas Everitt Eiendomme was die tweede spreker by die vergadering.

Anmar  het  die belangrikheid om alle relevante persoonlike dokumente in ‘n lêer byderhand te hou, beklemtoon. Om dit te illustreer, was daar ‘n deursigtige lêer op elkeen se  stoel geplaas met ‘n kontrolelys van noodsaaklike dokumente wat versigtig versamel moet word, en in so ‘n lêer  gebêre moet word, byvoorbeeld ‘n afskrif van ‘n geldige, getekende testament. Daarsonder is die bereddering van ‘n boedel by afsterwe, ‘n stresvolle proses. Beide sprekers het ‘n Afrikaans-roos as geskenk ontvang om die aandag te vestig op Afrikaans wat vanjaar ‘n 100 jaar as amptelike taal in gebruik is.

Dankie aan Openbare Sake vir ‘n uiters verrykende vergadering.  VLV-Kleinmond se volgende maandvergadering is op 29 April 2025. 

Opvoeding & Kultuurportefeulje sal die leiding neem.  Belangstellendes word spesiaal uitgenooi.  Ons sien uit om julle te verwelkom.

Die gasvroue van Openbare Sake met hul kleurvolle batikserpe, saam met Johanli Bock (heel links). Die ander is  Susan Marais, Hermien van Zyl (saamroeper), Wilma Fyfer, Maryna Britz en Malinda Hugo. Susan Botha kon nie teenwoordig wees nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *