KLEINMOND – Een van die helikopters wat die afgelope dae hier gebruik is om die brande te blus is ‘n befaamde Black Hawk, die enigste van sy soort in Suid Afrika. Die Sikorsky Black Hawk word in Amerika gebou en word hoofsaaklik deur die Amerikaanse militêre magte as troepedraer gebruik. Dit het natuurlik wyd bekend geword na die lokettreffer – Black Hawk Down. Dit handel oor ‘n stukkie Amerikaanse geskiedenis in Somalië wat dié span liefs wil vergeet.
Buiten dat die Black Hawk die enigste van sy soort in Suid Afrika is, het hy verskeie eienskappe wat hom ‘n trappie bo sy stalmaats plaas. Sy stalmaats is natuurlik die bekende Hueys wat gewoonlik hier in ons geweste vir brandbestryding gebruik word. Dié werkesels is die eerste keer op groot skaal gebruik tydens die Viëtnam oorlog in die laat sestiger, vroeë sewentigerjare.
Een van die grootste voordele van die Black Hawk bo die Hueys is natuurlik dat hy twee enjins het. Hy is vinniger, wat beteken hy kan gouer by plekke uitkom en vinniger gaan water haal. Sy maksimum spoed word aangegee as om en by 270km per uur. Hy kan ook meer water dra, 3 ton teenoor die Hueys se 1 ton. Dit alles maak hom natuurlik ook duurder om te huur.
Die vliegtuig behoort aan Leading Edge Avaition op Nelspruit en vorm deel van sy reaksiemag op Stellenbosch. Volgens die Universiteit van Google kos so ‘n vliegtuigie in die orde van R90m.