KLEINMOND – Lara Kirsten en Thomas de Bruin het op Saterdag 29 Januarie in ANDANTé se teater ‘n meesleurende uitvoering van Herman Beeftink se werke vir klavier en fluit gegee. Wat die gehoor egter veel meer aangegryp het, was hul improvisasies sonder bladmusiek of ‘n vooropgestelde melodie.
Soos Thomas daarvan gesê het: “maak net jou oë toe en maak die musiek jou eie – wat dit ook al vir jou beteken: poësie, water….just be in the moment.”
Lara en Thomas het saam studeer en net op ‘n stadium saam begin musiek maak – Lara op die klavier en Thomas op die fluit. Hulle het Beeftink se Vier Seisoene uitgevoer asook van sy watermusiek. Lara het die musiek afgewissel met van haar eie gedigte en vertalings.
Herman Beeftink, wat in Nederland gebore is, se musiek is easy listening, maar neig na klassiek. Hy het ‘n uitgebreide bydrae gemaak tot tema- en agtergrondmusiek vir verskeie film- en TV produksies nadat hy in 1982 Amerika toe is. Tog het hy ook jazz onderrig gegee nadat hy sy eie oorspronklike jazz metodes ontwikkel het.
Later het hy in Los Angeles as studio-musikant en TV en film-komponis gewerk, iets wat hy vandag nog doen. Die bekendste by ons is die musiek vir die TV reeks Gilmore Girls en films soos Wild Hogs, Freaky Friday en The Simpsons Movie .