KLEINMOND – Lede van die plaaslike skaakklub het verlede Dinsdag met hul weeklikse byeenkoms verras opgekyk toe drie raadslede, Grant Cohen, Theresa Els en Stephen Williams saam met die munisipale bestuurder Desmond Lakey, by die lokaal instap.
Grant Cohen is ‘n ou bekende by die klub. Hy het sy eerste openbare toespraak as raadslid by ‘n klub vergadering in 2017 gegee en sedertdien gereeld sy belangstelling kom wys.
Verlede jaar het hy ‘n uitdaging gestel dat hy die eerste vyf juniorlede wat die klub werf, se ledegeld vir die jaar sal betaal. Die klub het reeds drie nuwe juniorlede gewerf. Toe stel hy sy nuwe uitdaging dat die drie raadslede deur die juniors geleer word om skaak te speel en dan op Jeugdag, 16 Junie, teen die juniors van die klub te kom speel.
Theresa Els het gesê sy kan glad nie skaak speel nie, maar as een van die junior dogters haar sal leer, sal sy graag die uitdaging aanvaar.
Stephen Williams het dié wysheid kwytgeraak: “Skaak laat jou kop werk en as jou kop goed werk, kan jou hele liggaam goed funksioneer.”
Desmond Lakey se boodskap was dat die klub moet konsentreer daarop om die jonges te leer om skaak te speel en hul skaakvaardighede te ontwikkel…..dis nie vir gryskoppe soos hy nie, het hy geskerts.
Nadat voorsitter Allen Badenhorst die besoekers bedank het vir hul ondersteuning aan die klub, het Floris Coetzee (sekretaris) gesê hierdie besoek is ‘n historiese oomblik. Watter klub kan met so ‘n hoë afvaardiging se motivering aan die begin van ‘n nuwe jaar spog?