Hier op die vooraand van 2022 se Staatsrede het die boodskap reeds my ore bereik. Dit kom uit alle oorde, van ‘n DA-raadslid in Johannesburg, Afriforum en ten einde laaste van die President homself: Mense, as julle verandering wil sien, sal julle self hand uit die mou moet steek.
In Sondag se Rapport doen DA-raadslid Tim Trulock van wyk 117 in Johannesburg ‘n beroep op inwoners van Rosebank, Parkhurst en Saxonwold, voormalige tuiste van die Gupta-sjebien, om self skewe of omgevalle verkeerstekens reg te trek. Volgens hom is die bedryfsbegroting van die Johannesburgse Padagentskap van R1,5 miljard onvoldoende om boute of moere of pale of vervoer te voorsien vir verkeerstekens in die Goudstad en dan praat ‘n mens nie eens van om onkruid langs die paaie weg te skoffel nie.
Sy uitlating het gekom nadat hy en sy tuinhulp self ‘n stopteken weer moes staan maak.
Kort tevore het Afriforum berig dat sy tak in Benoni op 28 en 29 Novemberverskeie projekte in Benoni aangepak het. Slaggate is gevul, grasstroke is gesny, ‘n brug is skoongemaak en onwettige advertensieborde is verwyder. Die voorsitter van die Benoni-tak moedig inwoners aan om betrokke te raak omdat hulle sodoende help bou aan die toekoms van hul gemeenskap.
Wie nog gedink het dit is dalk politieke opportunisme, was vandeesweek grond toe gebring toe ons eie President Cyril Ramaphosa na ‘n besoek aan die Thakgalane-nedersetting in Limpopo gesê het gemeenskappe landwyd moet verantwoordelikheid aanvaar vir dieverdediging, beskerming en instandhouding van alle openbare infrastruktuur in hul woongebiede.
Ongelukkig het ons wyse president verby die DA en Afriforum se pogings gekyk en na die verre Kuba verwys waar plaaslike gemeenskappe glo self omsien na die museums, paaie, klinieke en so meer in hul buurte. Hy meen dat as dié gebruik hier gevestig kan word, sal dit ‘n verskil maak. Regtig?
Selfs ek het in die grendeltyd met my ronde hande en ‘n klinknaelknipper verkeerstekens weer vasmaak na ‘n woeste noordwesterwind. Om dit te kan doen, moet jy eers die gaatjies in die teken met ‘n boor verwyder. In een geval was die metaalbalkie waarteen dit vasgenael moet word so geroes dat ek ‘n houtstrook moes inwig en die teken moes vasskroef.
Die groot vraag is seker hoe ver moet inwoners se betrokkenheid by instandhouding gaan want betaal ons nie almal belasting wat daarvoor aangewend moet word nie.
Met ‘n klein spannetjie wat na verkeerstekens en straatname moet omsien tot ons Hangklip-Kleinmond-administrasie se beskikking, is dit duidelik dat enigiets wat jy kan doen om die druk te verlig, welkom sal wees.
Daar is geen probleem as ‘n mens die sypaadjie voor sy huis netjies hou of selfs sorg dat die straatnaamblok of brandkraan op die hoek nie oorgroei is nie. Moet nou net nie klippe pak om mense te verhinder om voor jou huis te parkeer nie. Daar moet minstens anderhalf meter oop wees sodat voetgangers uit die pad van voertuie kan beweeg.
‘n Nuwe tendens in die Hangklip-gemeenskap is om by ‘n Whatsapp-groep aan te sluit wat probleme deur ‘n subkomitee na die geografiese verteenwoordiger vir die area in die wykskomitee verder gevoer sal word.
Die belastingbetalersverenigings in die gebied speel ook ‘n belangrike rol. Hulle het al oor jare ontwikkel en die strukture vir skakeling met die munisipaliteit is al goed gevestig. In Kleiner gemeenskappe, soos Rooiels, word die gemeenskap georganiseer om meer verantwoordelikheid vir munisipale infrastruktuur te neem.
Die hoogste vlak van betrokkenheid is om kragtens die Wet op Eiendomsbelasting ‘n spesiale aanslaggebied met die meerderheidsteun van kiesers in ‘n area op die been te bring. ‘n Bykomende heffing word op eiendomswaardasie geplaas en dit word deur die munisipaliteit gehef en aan die bestuur van die spesiale aanslaggebied oorbetaal om vir bykomende munisipale dienste te betaal. Sp ‘n aanslaggebied is al vir Kleinmond gestig en sien om na die bevordering van gemeenskapsveiligheid
Al word daar met groot afwagting uitgesien na die Staatsrede, word dit al hoe duideliker dat ons maar ons hoop moet temper dat owerhede hul kant op groter skaal moet bring. Daar is bloot nie geld nie.
President Ramaphosa kan inspirasie vind by die eertydse Vrystaatse president Jan Brand (wat volgens die spreekwoord) gesê alles sal regkom … mits elkeen sy deel doen! Ek is ‘n Vrystaatse boorling.