KLEINMOND – Die tandarts, dr Wanya van der Walt, het pas weer haar praktyk op Kleinmond oopgemaak. By baie van die inwoners is sy ‘n ou bekende, nadat sy vir ‘n tyd lank rondom 2012 hier by dr. Klaas Visser gepraktiseer het. Dr Klaas in verlede jaar oorlede.
Sy is bekend as die singende tandarts.
Na die geboorte van haar tweede en derde kinders het sy locumwerk gedoen – tot sover as die Natalse Suidkus en Springbok.
“Ons woon nou in Hermanus, waar die drie kinders van 14, 9 en 7 op skool is, maar ek is baie bly om weer op Kleinmond te werk. Baie van my ou pasiënte kom loer hier in – van oraloor, selfs so ver as Swellendam, Napier en Struisbaai,” vertel sy.
Dr Wanya het in 2001 by die Pretoria Universiteit as tandarts gekwalifiseer en hoewel sy verskeie verdere kursusse gedoen het, verkies sy algemene tandheelkunde. Sy het in 2002 by die weermag in Bloemfontein begin en is vanaf 2004 in privaatpraktyk. Sy het deurgaans vanaf 2008 haar eie praktyk en locum ook tussendeur.
“My werk is my sendingveld en dis my passie om dinge vir my medemens beter te maak – al het hulle net ‘n oor nodig as hulle hul hart wil oopmaak. My spreekkamer moet ‘n veilige plek wees vir my pasiënte – ‘n plek waar ek die doel waarom ek op aarde is, kan uitleef. Ek stap lang paaie met my mense, en ek vind dat die singery terwyl ek werk, my pasiënte en myself kalmeer,” glimlag sy.
Sy was baie gelukkig om die twee staatmakers wat vroeër saam met haar gewerk het, weer in diens te neem. Jocelyn Ruiters is haar praktykbestuurder nadat sy vir 14 jaar by dr Klaas, gewerk het en Angelique October is die stoel-assistent, wat 9 jaar by die vorige praktyk was. Angelique is ook ‘n gekwalifiseerde skoonheidsterapeut.
“Ons doen alles hier wat met tandheelkunde te doen het – stopsels, ekstraksies, voorkomende behandeling, kunsgebit, implantate, krone …. noem maar op. Ek is deel van die Pedodonsie (kinder tandheelkunde) vereniging en ons praktyk fokus op voorkomende tandheelkunde.”
Ek behandel mediese fonds en privaat pasiënte,” sê Wanya. In haar vrye tyd stap sy graag saam met haar man, Louis en hul kinders. Louis is ‘n landskapsargitek wat gholfbane ontwerp. Hy is ook handig met houtwerk en het al die kaste in haar spreekkamer in die JB Piersegebou, Hoofstraat ingebou.
Verder skilder dr Wanya, lees graag en maak goue en silwer juweliersware. Haar singery gaan ook verder as die spreekkamer, want sy neem graag deel aan koorsang. Skakel haar by 082 681 8955 of epos na wanyavanderwalt@gmail.com.