My thumb goes up
A car goes by
It’s nearly one a.m.
And here am I
Hitchin’ a ride
As jy dié song van Vanity Fair onthou, is jy met permissie gesê, soortvan middeljarig of daar verby. Waarskynlik verby, want dis in 1969 bekendgestel. Toe het die hippies in Amerika floreer so na die Viëtnam oorlog en hier ter plaatse is dienspligtiges Grens toe gestuur.
My pa was ernstig behoudend. ‘n Mens het nié “loafers” soos hy boemelaars genoem het, opgelaai nie. Eers wás dit hoofsaaklik manne wat soos boemelaars gelyk het wat duimgegooi het.
My ma, in teenstelling met my pa, het gereeld mense opgelaai, selfs nog voor die dienspligtiges begin duimry het. Sy het gesê ‘n mens ontmoet interessante mense en sy het mense ongeag ras, kleur of geslag opgelaai. Toe die kinders diensplig moes doen, het sy nooit by ‘n army- of vloot-outjie verbygery nie. Sy het gesê “een van die dae word jou boetie opgeroep en dan hoop ek mense gee hom ‘n geleentheid.”
Destyds het ek ook, denkende aan my broer wat van Zeerust af hier in die Kaap moes kom, per geleentheid ‘n outjie opgelaai, maar nooit weer na diensplig afgeskaf is nie.
In landelike gebiede het die boere gereeld manne wat langs die pad gestap het, ‘n geleentheid agter op ‘n bakkie gegee. Plekke was immers ver uitmekaar en daar was nog nie taxi’s of sulke goed nie. Die lewe was ook nog nie so verraderlik nie.
Deesdae staan elke Jan Rap en sy maat langs die pad en soek ‘n geleentheid na wie weet waar. Selfs toe ons op die kruin van die covidpandemie was, was daar mense wat hul weg oopgesien het om duim te ry.
Ek verstaan mense kan ‘n probleem ontwikkel as skarmunkels treine, busse en taxi’s aan die brand steek. Ek het waarlik simpatie, maar ek laai nie mense op nie. Een of twee maal het ek al wel iemand opgelaai wat ek waarlik goed ken, maar deesdae? Haikôna. Twee redes: Covid is rede nommer een en verder is dit net te gevaarlik.
Tye het verander. My ma het vertel hoe hulle letterlik myle moes stap na ‘n hospitaal om hul ma en jongste boetie te besoek. Die baba was ‘n laatlammetjie en die kinders moes hul ma en nuwe boetie gaan groet. Niemand het die oupa se opdrag bevraagteken nie, want dis wat ‘n mens gedoen het. As jy nie ‘n kar het nie, dan stap jy. Dit was tydens die oorlogsjare, 1941. Selfs al hét die oupa ‘n kar te lene kon kry, was daar nie brandstof nie. Maar die goeie nuus is: Hulle het dit oorlewe. En daardie baba is al 80 verby. Die broers en susters is al almal oorlede, maar om nie ‘n kar te gehad het nie, het hulle nie benadeel nie.
Die wêreld waarin ons leef, meet jou dikwels aan die voertuig waarmee jy ry of nié ry nie. Mense kan dink net wat hulle wil. Ek is net bly ek hoef nie my duim op te steek langs die pad nie.