KLEINMOND – Twee jaar gelede het die Herald oor Jans en Hilda van Wyk se Broodstories geskryf – ‘n bedryf wat hulle in die Covid-tyd begin het om die pot aan die kook te hou. Vandeesweek het hulle hul eie artisan bakkery in Hoofstraat 52 oopgemaak, waar hulle hul hele broodbak-proses gaan bedryf – ten aanskoue van hul vaste kliënte maar ook almal wat agter die heerlike broodgeur van die straat af gelok gaan word.
Daar gaan tafels en stoele wees as kliënte sommer daar en dan van die gebak saam met ‘n koppie koffie wil geniet. Die koffie het ook ‘n storie: dit is ‘n produk van die Instituut vir Blindes in Worcester en word heel gepas Blindiana genoem, maar daar is ook ‘n Moccha Java-mengsel beskikbaar.
“Ons gaan om 7:00 oopmaak, sodat mense sommer op pad werk toe hier kan indraf vir ‘n wakkermakertjie,” vertel Hilda opgewonde.
“Ons het op die oopplan-uitleg besluit sodat ons kliënte elke stap van die broodbak-proses kan sien – ook hoe ‘n lang proses dit werklik is. Die suurdeeg word byvoorbeeld 48 uur voordat ons begin brood bak reeds voorberei. Ons gebruik net die een suurdeeg – ‘n ou familieresep en dit kom in al ons gebak, omdat dit daardie spesiale geur gee. Later sal ons wel soet en sout pasteideeg ook inbring – en al die ander planne wat ons het.”
Intussen het hul personeelgetal ook verdubbel. Eers het Hilda en Jans alles gedoen, maar nou het haar sussie, Leonie Fouché en oudskoolhoof Gys Huisamen ook bygekom. Die van Wyks se seun, Rigardt staan ook in terwyl hy wag dat die universiteit begin.
“Ons het nou darem ook groot mengers om die groter volumes deeg wat ons moet verwerk te hanteer. Maar ‘n mens moet ‘n gevoel vir die deeg kry. Ons gebruik net ‘stoneground’ meel, wat soms maar wispelturig is. Dan moet ‘n mens weet wat om by te voeg om die digtheid reg te kry,” sê sy. “Die hele proses is ‘n ‘feeling thing’.”
Hulle gebruik gas-oonde “want dit bak vinnig en dit bak mooi brode.” Vir die kliënte word die aankope in sakkies gepak waarop al hul broodstories gedruk is. Die sakkies word ook deur die blindes in Worcester gevou.
Spesiale bestellings moet die vorige dag voor 11 uur by 071 439 4011 gedoen word, maar die lekkerste is om self by Hoofweg 52 stil te hou en te kyk hoe hierdie passievolle span die brood-ding doen.