KLEINMOND – Nydia Carelse, organiseerder van die Beach Market wat blyk om ‘n groot sukses te wees, laat weet dat die mark vir die wintermaande in ‘n onderdak-lokaal verder bedryf gaan word.
“Ons wil graag die stalletjiehouers ook deur die winter dra, maar mens kan nie van hulle verwag om in ons gure winter buite kom sit met hul handelsware nie – die meeste van hulle is pensioenarisse wat van die huis af hul handwerk of bakwerk doen,” sê sy.
Die winkel sal ook nie net elke tweede Saterdag bedryf word nie. Dit sal van Maandag tot Saterdag oop wees. Vir mense wat nie self by die winkel kan werk nie, sal daar ‘n plan uitgewerk word om hul ware verkoop te kry. Hulle betaal vir hul uitstalruimte – min of meer soos ‘n tuisnywerheid. “Hierdie is fase 2 van die Beach Market waarmee ons ‘n platform gee vir mense wat nie ‘n eie winkel kan bekostig nie.”
Nydia pak hierdie projek aan ter nagedagtenis aan haar ma, Heather (Tula) Carelse wat op 19 Aug 2021 oorlede is. “Sy was altyd met ‘n handwerkie besig en ek wil graag dit waarvoor sy die liefste was laat voortleef en daardeur ander mense ook te help wat lief is vir handwerk. Dis my beste herinnering aan my grootwordjare en die beste geskenke wat ek gekry het, was wat sy vir my gemaak het. Ons moet hierdie tradisie wakker hou. Deur jou hande te gebruik kan jy altyd vir jouself ‘n inkomste maak,” sê sy.
“Dis ‘n groot onderneming om aan te pak, maar as mens leef moet jy leef. Elke minuut van jou ewe moet betekenis dra vir jouself en vir iemand anders. Die winkel sal ook ‘n facebookblad hê waarin ons die persone agter hul produkte sal blootstelling gee.”
Die plek waar die winkel oopgemaak gaan word sal later bekendgemaak word, maar Nydia beloof dat dit voor die winter teen April of Mei gereed sal wees.