KLEINMOND – Dirk Ace Records het op Saterdag 19 Februarie ‘n derde been van sy besigheid in Haweweg bekendgestel – Dirk Ace Models.
“Hier is soveel kreatiewe, talentvolle, aantreklike jongmense in ons omgewing wat sonder werk sit. Ek wil aan hulle blootstelling gee – veral vir die film- en advertensiebedryf, sodat hulle geld kan verdien en ek hoop hulle word deur groot agentskappe raakgesien sodat daar ‘n wêreld van geleenthede vir hulle kan oopgaan,” sê hy. Terloops, Saterdag was ook Dirk se verjaarsdag en daar is behoorlik makietie gehou met live musiek en alles.
Dirk stel binnekort nog ‘n vierde been van sy besigheid in die winkel langsaan in die vooruitsig – ‘n kuns en fotografie-ateljee. Dit doen hy saam met nuweling op die dorp, Lee Botha, wat die model-afdeling en die ateljee gaan bestuur.
“Dan het ons ‘n klomp van die mooi dinge van die lewe hier bymekaar: musiek, klere, kuns, natuurlike talent, mooi mense en foto’s,” sê Dirk. “Haweweg het die potensiaal om die kuns-mekka van die Overstrand te word en saam met die ander bates soos ons gasvryheid, mooi omgewing en die see kan Kleinmond dié toerismebestemming van die omgewing wees.”
Lee Botha is ‘n stadsmeisie, maar nie onbekend aan Kleinmond nie. Haar ouma het hier gewoon en hulle het baie hier kom kuier. Sy het ondervinding in hoëprofiel handel nadat sy bestuurder was by plekke soos Queenspark en Quiksilver. Sy het later as talentwerwer by ‘n filmmaatskappy begin werk en daar hooffotograaf geword, wat ook portefeuljes van akteurs saamgestel het.
“Hier in Kleinmond gaan ons meer fokus op advertensie- en filmmodelle as op loopplankwerk,” sê sy. Hulle het reeds ses modelle en mettertyd sal hulle meer innames maak. “Eers moet ons die foto-ateljee inrig sodat ek professionele portefeuljes kan begin saamstel, maar voornemende modelle kan solank hul name en besonderhede vir ons kom opgee.”
Lee en Dirk het mekaar by Die Bloubakkie ontmoet toe sy ‘n ruk lank daar gewerk het. “Hy het my ‘n boek geleen en hoe langer ons gesels het, hoe meer het hy gesê dat sy visie vir ‘n besigheid om jongmense te bemagtig, goed aansluit by my ondervinding. So, hier is ek nou op Kleinmond waar ek my nuwe lewe gaan begin,” sê sy.