Maandagaand sit en kyk ek in verslaendheid hoe daar, afgesien van die amperse Derde Wêreldoorlog op die grens tussen die Oekraïne en Rusland, ‘n jong oorloggie in Rozettenville afspeel. Op die Kaapse Vlakte, verneem ek, vind sulke dinge gereeld plaas en dan praat ons nie eens van KwaZulu/Natal nie.
Later die aand op BBC nuus praat ma’s van New York, ek dink Haarlem het hulle gesê, oor hoe hulle in vrees en bewing lewe omdat daar so baie mense, jonk, oud, ook babas, daar doodgeskiet word. Die vroue van Haarlem kan nie glo dat die stadsbestuur die polisiebegroting wil besnoei nie, want vir wie moet hulle bel as die geskietery losbars, vra hulle.
Noem ‘n land in Suid-Amerika, Noord-Amerika, Afrika, die Midde-Ooste, die Balkans, man oral behalwe miskien Nieu-Seeland, waar mense nie skietgoed bedot is nie.
Ek is nou nie ‘n aanhanger van sameswerings-teorieë nie, maar die wêreld is baie gewillig om die name bekend te maak van biljoenêrs wat hul fortuine gemaak het uit tegnologie of selfs dwelms, maar waar is die name van wapenvervaardigers?
Remington, so het ek verneem, is in ‘n waterskeidingsaak in ‘n Amerikaanse hof skuldig bevind daaraan dat hulle toegelaat het dat semi-outomatiese wapens in die hande van iemand beland het wat moord en doodslag gesaai het. Die o-so-vroom Reagan regering het lande in Sentraal-Amerika vol wapens gepomp in hul “oorlog teen dwelms”. Wel, dwelmverspreiding het nie daar afgeneem nie, maar ou boetie! wapenverkope het hand oor hand toegeneem.
Daar was ‘n tyd in ons land toe Krygkor uitstekende krygstuig vervaardig het, dat dit goed gegaan het in ‘n oorlog wat die regering gesê het nodig is. Toe word dit Denel, die oorlog onnodig en nou is die hele ou spannetjie bankrot. Hier dwaal genoeg wapens in ons land rond, sonder dat die staat nóg maak wat waarskynlik in ieder geval in die hande van kriminele gaan beland.
Moenie vir een oomblik dink die Kaapse Vlakte en Khayalitsha en Gugulethu en KZN het alleenreg op onwettige wapens nie. Straatpraatjies wil dit hê dat ons dorpie sy eie kwota ongelisensiëerde skietgoed het. Of dit nou uit polisiebewaring, bendegeledere of onwettige transaksies kom, hulle is hier. Dis nou afgesien van diegene wat gelisensieerde wapens het en wat werklik weet hoe om die wapens te hanteer.
Ek het so in my enigheid die idee dat baie mense en kinders wat handwapens in die hande kry, dink dis net ‘n geval van mik en druk, soos met die outydse Instamatic kameratjies. Soos hulle in die moewies maak: skiet, hardloop, skiet, hardloop. Baie slim.
En dit maak my siek, hierdie beheptheid met vuurwapens en wapentuig. Glo my, baie van hierdie manne, en die manlike geslag is verreweg in die meerderheid, kan nie eens bystaan as hul vrou geboorte skenk nie want die bloed en alles wat daarmee gepaard gaan, maak hulle bleek om die kiewe. Maar gee vir hulle ‘n “gun” en hulle is nek van die plek.
Nou ja, aangesien WO3 nog nie uitgebreek het nie, kom ons hoop en bid hier trek ‘n groot magneet oor die aarde wat alle wapens optrek en in ‘n “black hole” laat verdwyn. ‘n Mens kan mos maar droom, want vrede is minder van ‘n werklikheid as so ‘n magneet.