KLEINMOND – Die Overstrand Herald het begin met die toets van ons nuwe gemeenskapskalender op die webtuiste. Dit is iets wat Hangklip/Kleinmond al lankal kort, ‘n behoorlike kalender waar jy met een oogopslag kan sien wat aan die gebeur is. Gaan kyk gerus hoe dit lyk (klik net op die hofie Kalender heelbo) en as jy ‘n geleentheid aan die kom het, laai dit gerus. Ja, jy kan self jou geleentheid met al die besonderhede laai op die webtuiste. Al wat jy nodig het is ‘n foto en die natuurlik die besonderhede van die geleentheid. Jy kan ook inteken op die kalender en dan verwittig word van nuwe geleenthede wat geplaas word.
Dis ook ‘n nuutjie vir ons en ons verwag dat daar hier en daar ‘n hobbel gaan wees. Wees maar geduldig. Al die plasings moet eers goedgekeur word alvorens hulle geplaas word en dit kan ‘n tydjie vat. Ons is nog besig met die kriteria vir plasings. Ons sal weldra die kriteria publiseer. Intussen behou ons die reg voor om plasings goed te keur of nie. Tot einde Maart 2022 is alle plasings gratis, maar ons moet die koste verhaal, so verwag dat ons in die toekoms moontlik vir kommersiële geleenthede ‘n klein fooi mag vra.