KLEINMOND – Kunstenaar Barbara du Bois, reeds Kleinmonder vir 21 jaar, lewe nog altyd met die brandende begeerte om te skep. “My werk moet egter nie net vir myself iets beteken nie – dit moet ook die betowering en verwondering wat ek voel aan ander oordra,” sê sy.
Sy skilder in olie op doek, teken met houtskool en pastelle en doen ook beeldhouwerk in klei en optelhout. Sy doen meestal realistiese werk met mense as tema, maar met ‘n verrassende element van perde of seevoëls daarby wat simbolies is en met die ‘storie’ van haar onderwerp saampraat.
“Ek meng realisme met abstrakte konsepte wat na die surrealistiese neig. Dit kleur die betekenis van die werk,” verduidelik sy. “Kleinmond is my gelukkige plek en ek stap elke oggend met my honde see toe. Dis vir my baie belangrik om tyd in die natuur te spandeer. Dit maak my rustig, gelukkig en gesentreerd.”
Barbara neem meestal self foto’s van haar onderwerpe en aangesien sy daarvan hou om Afrikamense te skilder weens hul besonderse veltint en haar empatie met hul omstandighede, het sy dikwels in Khayalitsha gaan foto’s neem. “Ek was al twee keer in ernstige gevaar daar, maar toe praat ek my in Xhosa daaruit,” glimlag sy.
Sy is ook passievol oor perde en was vir ‘n jaar ‘n gids vir perderitte by Overstrand Equestrian Centre. “Dit was fantasties om elke dag tussen die pragtige diere te wees. Hulle is grasieus, majestueus, met ‘n sterk maar deernisvolle krag,” sê sy.
“Kunstenaars kommunikeer iets met die wêreld of hulle nou wil of nie. As ek iemand kan beweeg om verwonderd te staan, ‘n herinnering te hê aan die wonder van die lewe, sal ek hoogs in my noppies wees … ek wil tog net mooi maak sodat die lewe vir almal ‘n bietjie beter kan wees.”
Barbara het ‘n dogter Gabriella, (18) wat op haar dag hoofmeisie by Kleinmond Laerskool was. “Sy is die grootste geskenk van my lewe,” sê sy.
Soos dit ‘n tipiese kunstenaar betaam, is haar huis vol van haar eie en ander kunstenaars se werke. In die Harbour Rd Galery is tans van haar werk te sien en sy het in die verlede in ‘n galery in Hermanus uitgestal. Sy het op ‘n stadium ook ‘n solo-uitstalling by Arabella gehad. Op die oomblik bemark sy aanlyn op haar webwerf www.barbaradubois.co.za of op Facebook: Barbara du Bois Art. Whatsapp haar by 072 341 4172 om meer te wete te kom.