Laas Saterdag in seker die verste uithoek van die Kaap wys ek vir jongelinge van my uitgebreide familie ‘n brokkie in Die Burger van vyftig jaar gelede: Hawe lyk soos Hippieland. Die twaalfde Antarktiese span het op die skip RSA teruggekeer. Geliefdes en familielede het gesukkel om hul mans te herken weens die wilde hare en baarde wat elkeen van hulle tydens hul verblyf by die SANAE-basis ongetem toegelaat het om te groei.
Die aas is gevat en die jonges wou weet waar kan hul meer sulke stories kan kry. Goeie bemarking vir ons hartskoerant.
Ons was daar vir die troue van ‘n susterskind van ons op ‘n gasteplaas naby Hoedspruit. Meeste van ons tyd en energie het ons egter bestee in die Ohrigstad-omgewing, waar die nefie ‘n plaas bestuur. Dit is ‘n florerende landboudistrik en sitrus, boontjies, wildboerdery, noem maar op gedy daar.
Lanklaas het ek sulke goeie verhoudinge tussen verskillende bevolkingsgroepe gemanifesteer gesien. Ons lag saam wanneer my swaer se Botswana-pulas onmiddellik ferm deur die petroljoggie van die hand gewys word, maar ons weet ook dat hy kort tevore die bruid op haar vrolike gang laat gaan het toe sy, nadat sy haar motor se tenk gevul het, agtergekom het haar bankkaart het by die huis agtergebly het. “Ek ken mos jou man, hy sal kom betaal!”
‘n Paar dae later op ons pad terug, vra ek dieselfde man weer uit oor hoe dit eintlik op Ohrigstad gaan: “Dit is ‘n klein plekkie,” sê hy, “ons ken almal mekaar.”
Dit word bevestig deur ‘n kommentaar op ‘n foto oor die merkwaardige plaaslike kerk wat ek op die Facebook-groep Kerkgeboue van Suider-Afrika plaas. ‘n Vrou vertel my van ‘n artikel wat sy gelees het oor hoe goed dit gaan op Ohrigstad, wyle generaal Constand Viljoen se laaste vesting.
By die troue besef ek vinnig dat ek nou deel is van die oudste generasie. In die laaste twee jaar is so baie van die ooms en tannies van die generasie net voor my weens Covid 19-verwante oorsake weg…
Ek is dankbaar dat ek nog nie ‘n algehele weeskind is nie. Op pad terug, maak ons ‘n draai by my 97-jarige ma op Heidelberg en sy maak ‘n punt daarvan om ons te kapittel oor die verkwisting van geld op duur reise. My antwoord was dit was nodig, nie om my ontwil nie, maar oor die volgende geslag wat soos ek ons waarvandaans wil onthou.
Wat my ook getref het, was dat daardie verwante van my wat oor die hele Laeveld en die Bosveld, en selfs ook in Botswana versprei is, nie meer grondeienaars is nie. Hulle bestuur plase of is betrokke by die lewering van dienste aan die landboubedryf. Van die gaste by die huwelik was selfs betrokke by regeringsprojekte waar intensiewe pogings aangewend moes word om eens florende plase wat onteien is en aan voorheen benadeelde gemeenskappe oorhandig is, te probeer red.
Baie van hul ouers het wel grond besit, maar die uitdagings van die natuur, te min water of wilde diere wat onder veetroppe gemaai het, het hul tol geëis.Sekere tradisies word tog met aanpassings volgehou. Een van my tydgenote het die stookketel wat hy by sy ma en oupa geerf het, met ‘n nuwe een laat vervang. Die oue kon nie meer herstel word nie. Hy stook nou whisky van mielies, vertel hy.
Dit, en die blik op die volgende generasie wat almal besig is om ‘n belangrike rol te speel om voedselsekerheid vir Suid-Afrika te verseker, het vir my ‘n rukkie laat wonder of die EFF-leier Julius Malema al ernstig nagedink het oor die nasionalisering van grond en die rassenyd wat hy so sterk bevorder. Hy gaan regtig sukkel om dit te verwesentlik … sonder die geslag grondlose boere wat Suid-Afrikaanse landbou tans aan die gang hou.
Maar dié gedagtes het vinnig die wyk geneem danksy ‘n meesleurende liedjie van Wouter van de Venter wat die dansvloer vinnig gevul het en my op ‘n nostalgiese reis na die verlede geneem het:
Ooh hoo hoo as die hippies begin dans
Vat jy my terug na die ou dae,
Die jong dae
Die lekker vry op skooldae….