HERMANUS – Die Overstrand se burgemeester, Dr Annelie Rabie is glo gedreig rakende Bettysbaai se bobbejane. Rabie sê in ‘n plasing op sosiale media vroeër vanaand (Vrydag) dat sy glo dreigemente (veiled threats) ontvang het dat sy dalk in die voetspore van die bobbejaanmannetjie, Brutus kan volg en moontlik volgende geskiet kan word. Brutus is Saterdagmiddag geskiet en is later uitgesit vanweë sy beserings. Volgens die Herald se bronne het die eerste lykskouing aangedui dat Brutus waarskynlik met ‘n windbuks geskiet is. Die lykskouing het glo oor die R20 000 gekos. Die polisie het ondertussen met ‘n ondersoek na die voorval begin. Dr Rabie sê in haar plasing op facebook dat sy opdrag gegee het dat Brutus nie veras moet word nie en dat daar weer ‘n lykskouing op die bobbejaanmannetjie gedoen moet word. Sy sê sy is in besit van whatsapp boodskappe, eposse en plasings op sosiale media waarin mense gevra word om nie na vore te kom met inligting oor die saak nie. Sy sê dit onwettig om ‘n wapen in ‘n woongebied af te vuur en dat dit belangrik is om vas te stel watter soort vuurwapen gebruik is om Brutus te skiet. Sy sê as die bestaande maatreëls nie mens en dier beskerm nie, beteken dit dat die munisipaliteit in sy taak faal.