KLEINMOND – Aan die einde van 2021 is die mans vierspel en die driespel klubkompetisies voltooi. Die vierspel-kampioene is: Tikkie Rossouw, Peter Davidson, Chris van der Westhuizen en Leon van Niekerk. Die kampioene van die mans driespel is Kallie de Kok, Emile du Toit en Leon van Niekerk.
Gedurende Januarie en Februarie 2022 is meer klubkampioenskappe afgehandel waar die dames driespel deur Elaine le Roux, Kitta Steffen en Hendrina Davie gewen is. Die dames-pare is deur Marita Grobbelaar en Marion Bezuidenhoudt ingepalm, terwyl Henry Fourie en Graham Utton die mans-pare kampioene is. Dirk Kotze en Magriet Pretorius het in die gemengde pare koning gekraai.
Klublede het onder leiding van Pierre Paul baie hard gewerk om die uitleg binne die klubhuis meer besoekersvriendelik te maak. Die span het netjies en vinnig gewerk en met die ondersteuning van die dames met eet en drinkgoed, binne een dag die werk voltooi. Kleinmond Rolbalklub het voorwaar lede om op te reken.
Die eerste gaste wat in die “nuwe” klubhuis ontvang is, was die mans wat in die Boland Seniors Enkels toernooi hier kom speel het. Charlie van Heerden van Kleinmond het hier deurgedring na die uitspeelrondtes. Ingrid Bezuidenhoudt het op haar beurt die finale rondte van die Boland Dames Enkels bereik.
Henry Fourie en Derene Fourie is ingesluit in die Bolandspan wat aan die Interdistrikte toernooi sal deelneem. Baie geluk julle twee Kleinmonders.
Intussen het die besigheidsliga 2022 begin. Daar is groot belangstelling en al twaalf bane is vol. Die groot getal toeskouers bewys die gewildheid van hierdie sosiale spel.
In bowls there is a saying: “You only need three words starting with the letter ” L “ to play good bowls; Line, Length and Luck!