HANGKLIP/KLEINMOND – Beplanning vir die <strong>Porselein en Keramiekfees </strong>wat van Woensdag 21 tot Saterdag 24 September oor ons hele streek gehou gaan word, vorder fluks. Volgens Deon Brits van die Hangklip-Kleinmond Besigheidsforum, is dit wel ‘n nisfees, maar die organiseerders gaan ook ander kunste en musiek betrek, solank die tema iets van porselein of keramiekware of die gebruik daarvan bevat. ‘n Wye verskeidenheid aksies word beplan, soos uitstallings, werkswinkels, musiek op klein skaal soos huiskonserte, of groter soos orreluitvoerings in kerke. Die werkswinkels in keramiek en porselein gaan deur Wesgro (Wes-Kaapse Toerisme, handel en beleggingsorganisasie) aangebied word. Die ander organiseerders is die besigheidsforum en ons plaaslike toerisme-kantoor, maar die hele idee van die fees is ‘n breinkind van ons eie internasionale bekende keramiekkunstenaar, Corinne de Haas. Een van die idees om die hele gemeenskap te betrek, behalwe die high tea wat die VLV gaan aanbied, is om almal wat besonderse porselein of keramiekware besit – al is dit net een item, te nooi om hul huis oop te stel en ‘n dis of ete in dié ware te bedien, terwyl hulle die storie daarvan vertel. Dit is onder andere die program vir Woensdag 21 September: <em>Dine with a local</em>. “Elke persoon het mos ietsie spesiaal in die huis wat vir hom mooi is: of dit nou ‘n Royal Dalton-stel is wat van ‘n ouma geërf is of net ‘n mooi bakkie wat op ‘n vlooimark of by Pep gekoop is. Die idee is om die verhouding tussen porselein of keramiekware en die kos wat daarin bedien word, uit te beeld,” sê Deon. “Kos proe mos anders as dit in porselein of keramiekware bedien word as uit plastiek of enige ander weggooi-materiaal.” Hy verseker dat die gasheer of gasvrou nie ‘n uithalerkok hoef te wees nie. Dit kan doodgewone kos wees wat jy elke dag vir jou gesin voorsit. Die belangrike ding is die storie en waarom dit vir jou besonders of mooi is. 70% van die kaartjieverkope gaan aan die gasheer, 20% aan die feesfonds, want hulle doen al die bemarking en kaartjieverkope, en 10% na ‘n plaaslike liefdadigheidsinstansie van jou keuse. Deelnemers moet vooraf die hoeveelheid mense wat hulle kan akkommodeer, die datum wat hulle verkies, hul spyskaart en ‘n foto van die ware saam met die storie vir die organiseerders stuur. “Mense wat belangstel, kan op die facebookblad: #cpfestival2022 gaan kyk hoe hulle deel van hierdie projek kan word, of skakel Deon Brits by 082 338 2532. In die volgende paar weke vertel ons meer van die uitstallings en werkswinkels, die musiekuitvoerings en ander fees-dinge.