KLEINMOND - Op 24 Februarie 2022 is drie belangrike grondgebruiksaansoeke vir die Hangklip-Kleinmondgebied deur die Munisipale Beplanningstribunaal van Overstrand oorweeg. Dié liggaam onder ‘n onafhanklike voorsitter moet uitsluitsel gee oor sake waarop daar besware tydens die publieke deelname-proses ingedien is. Die huidige voorsitter is me H Janser en Stephen Müller, direkteur van beplanning en infrastruktuur, is die ondervoorsitter. Die res van die tribunaal bestaan uit amptenare Soli Madikane, Hanré Blignaut, Rochelle Louw, Riaan Kuchar, wat die gemagtigde beampte vir stadsbeplanningsaansoeke is, Schalk van der Merwe, Hanneen van der Stoep en Petrus Roux. Einde Februarie het die munisipaliteit gevra vir nominasies van Overstrand-inwoners om op die komitee te dien. Belangstellendes moet oor sewe jaar se ondervinding van ruimtelike beplanning, grondgebruikbestuur, grondontwikkeling of die regsaspekte daarvan beskik, professionele registrasie as rekenmeester, stadsbeplanner, siviele ingenieur, prokureur of omgewingskundige hê en ook oor leierseienskappe beskik. Vergunning onderhewig aan verskeie voorwaardes is toegestaan vir die bedryf van 1000 Voetjies as ‘n opvoedkundige plek in ‘n huis op Erf 6304, Kleinmond. Hoewel die fasiliteit al sodat 2008 bestaan, was dit voorheen as ‘n afwyking van die Kleinmond Soneringskema gehanteer. Dié skema is in 2013 deur die Overstrand Grondgebruikskema vervang. Hoewel die nuwe skema voorsiening maak vir crechés, is daar onder meer weens die getal kinders wat daar geakkommodeer word en die feit dat die eiendom nie deur die eienaars bewoon word nie, besluit om vir ‘n vergunning aansoek te doen. Die gebou is sedert 2008 aansienlik aangepas om as ‘n sentrum vir vroeë kinderontwikkeling te dien. Twee besware is teen die aansoek ontvang, maar die tribunaal was tevrede dat die aansoek in lyn is met vooruitbeplanningsdokumente, in ‘n groot gemeenskapsbehoefte gaan voorsien en dat die besware bygelê kan word. Vir ASK Security CC was daar gemengde sukses met sy aansoeke vir die opheffing van beperkende titelaktevoorwaardes, ‘n vergunning en ‘n afwyking op Erf 2666, Porter-rylaan 201, Bettysbaai, om hom in staat te stel om ‘n transmissiefasiliteit op te rig. Altesame 17 kommentare is tydens publieke deelname hieroor ontvang. Aansoeke wat afgekeur is, was vir ‘n afwyking van die 8m hoogtebeperking op strukture, vir ‘n vergunning om ‘n transmissietoring van 15m hoog op te rig en vir die opheffing van ‘n beperkende titelaktevoorwaarde mbt die 15m hoë toring. Die redes daarvoor was onder meer dat die motivering te vaag was en nie die situasie in Bettysbaai aangespreek het nie, geen melding gemaak het van ander torings of hul spesifikasies nie, nie oorweging gegee het aan die visuele impak nie, nie die behoefte geverifieer of gekwantifiseer het nie en nie alternatiewe buite die besigheidsgebied ondersoek het nie. Goedgekeur is die opheffing van die beperkende voorwaardes in die titelakte ten opsigte van die gebruik van hout en yster in strukture en boulynbeperkings ten opsigte van Porter-rylaan. Die beperkings op die gebruik van hout en yster is nie meer vandag van toepassing nie weens tegnologiese ontwikkelinge wat sedert dorpstigting in 1942 plaasgevind het. Die konstruksie van die R44 het die Porter-rylaan as eertydse hoofstraat vervang. Daar is boonop nie genoeg ruimte vir verdere ontwikkeling op die erf as die boulyne in plek bly nie. Die Grondgebruikskema word as voldoende vir die hantering van ontwikkeling op die erf beskou. Die aansoeke vir die verwydering van beperkende titelaktevoorwaardes of Erf 428, Centralweg, Pringlebaai, om die oprigting van ‘n 25m hoë transmissietoring moontlik te maak, is ook afgekeur. Altesame 82 besware is hierteen ontvang. Weer eens was die vaagheid van die motivering ‘n bepalende faktor, veral omdat die situasie in Pringlebaai nie behoorlik aangespreek is nie. Die visuele impak het ook ‘n groot rol gespeel, asook ander fisieke aspekte van die toring soos skottels en lugvaartwaarskuwingsligte. In al die gevalle sal die aansoekers en beswaarmakers oor die besluite ingelig word en ook kennis gegee word dat hulle kragtens artikel 78 van die Munisipaliteit Overstrand se Verordening op Grondgebruiksbeplanning van 2015 daarteen kan appelleer.