Die skeiding van magte is ‘n hoeksteen van die demokrasie. In meeste Westerse lande word mag verdeel tussen die wetgewende, die uitvoerende en die regsplegende gesag, waarvan laasgenoemde as die oppergesag beskou word. Suid-Afrika is sedert 1994 ‘n regstaat met die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika as rigsnoer. Die Konstitusionele Hof is die hoogste regsprekende liggaam in die land en moet uitsluitsel gee oor baie kwessies wat veral die handves van menseregte raak. Soos ‘n mens nou met die Russiese inval in Oekraïne sien, bly jou individuele regte en vryhede op ‘n groot skaal in die slag wanneer ‘n gewapende stryd uitbreek – jou eiendom word vernietig, jou lewe word ontwrig, jou toekoms kom in gedrang… Selfs aan die kant van die Russiese soldate kom die rooi vlaggies vinnig op. In my Weermagdae was daar baie aandag gegee aan die vraag wat is ‘n wettige bevel? Die uitvoering van die opdrag om ‘n soewereine land in te val, is al klaar ‘n oortreding van die internasionale reg en ek vermoed ook onwettig in terme van die Russiese grondwet. Was daar ooit ‘n ultimatum aan Oekraïne gestel? Rusland se eise was aan die Verenigde State van Amerika en die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie gerig. Was die nie-nakoming van die eise genoegsame rede vir die inval? Is sulke vrae in die Duma, die Russiese parlement, bespreek? Is daar ‘n Krygswet of enige vorm van wetgewing deur die Duma goedgekeur? Het die hoogste hof in Rusland oor die meriete van die wetgewing besin. Of is alles by wyse van dekrete deur ‘n despotiese president afgekondig? Dit lyk of die skeiding van magte in Rusland gefaal het. Die prys daarvoor is hoog en dit kan erger word. ‘n Derde wêreldoorlog kan net so vinnig soos die inval in Oekraïne van stapel gestuur word. Skeiding van magte is ‘n belangrike konsep. Dit kan oorloë voorkom, maar op ander vlakke van regering dien dit ook ‘n belangrike doel. Dit bied die wigte en teenwigte wat die samelewing in ‘n delikate balans hou. Na my mening is daar in die Suid-Afrikaanse konteks ‘n diskrepansie met hierdie magsewewig wanneer dit by plaaslike owerhede kom omdat daar nie duidelike afbakenings tussen die rade en die administrasies bestaan nie. Selfs in Overstrand, volgens onafhanklike kenners die bes bestuurde munisipaliteit in die land, swaai die pendulum tussen die raad en die administrasie oor wie die hef in die hand hou. My waarneming is dat die bepalende faktor die burgemeester is. In hierdie stadium lyk dit of onder dr Annelie Rabie die raad die septer gaan swaai. ‘n Baie belangrike riglyn in hierdie verband is artikel vier van die Munisipale Stelselswet, wat die regte en pligte van die raad uitspel, en hoofstuk 7 van dieselfde wet, veral artikel 53 wat die rolle en verantwoordelikhede van politieke strukture en ampsdraers ten opsigte van die administrasie aanspreek. Vir my kom dit voor of die spanning tussen die politici en die amptenary aan die toeneem is end at daar ernstig gekyk moet word na meganismes, prosesse en prosedures om onder meer oorvleueling van verantwoordelikhede, die hantering van dispute en behoorlike interaksie te bestuur. Interessant genoeg, maak artikel 53 ook voorsiening vir die desentralisering van die bestuur van administrasies en bepaal da took daarvoor meganismes, prosesse eb prosedures ontwikkel word. Die regte en verantwoordelikhede van lede van die plaaslike gemeenskap, wat in artikel 5 van die Stelselswet bepaal word, sluit in dat hulle bogenoemde meganismes, prosesse en prosedures in ag moet neem. Met ‘n nuwe raad in plek, is dit nou ook tyd vir ons leiers om die Munisipale Stelselswet onder die loep te neem.