KLEINMOND – Plaaslike Graad 11-leerder aan Hoërskool Hermanus, Daniël van den Heever is op pad na die internasionale Biologie Olimpiade wat van 3 tot 11 July in Yerevan, Armenië gehou sal word. Daniël se onderwyser in Lewenswetenskap, mev Miralese Wiegman, sê sy is verstom dat Daniël die span gehaal het – en toe nog in die tweede plek landswyd gekom het. Sy vertel dat sy op 13 Februarie, die dag voor die toelatingstoets, eers van die olimpiade gehoor het. “Ek ken egter vir Daniël en dat hy altyd reg is vir ‘n akademiese uitdaging,” sê sy. Hy is die middag opgewonde met die nodige studiemateriaal daar weg en het die volgende dag gaan skryf. “Ek het net geweet ek sal op my korttermyngeheue moes staatmaak,” sê hy. Hy kon darem die werk een keer tuis en een keer die volgende oggend op pad skool toe deurgaan. Verlede Donderdag, toe mev Wiegman haar pos oopmaak, het sy die goeie nuus gekry dat Daniël as een van die top 4 in die land, Suid-Afrika in Armenië gaan verteenwoordig. Sy ouers moes binne 48 uur toestemming gee en vandeesweek al sy onkoste bybring. Hoërskool Hermanus, plaaslike besighede en die gemeenskap het egter ingespring en nou is die pad oop vir Daniël om hierdie hupstoot aan sy lewensdroom aan te pak. Na matriek wil hy Entomologie gaan studeer.