BETTYSBAAI - Terugvoering van mense wat die Bettysbaai Belastingbetalersvereniging se aanbieding <em>La Môme Piaf </em>verlede week in die Crassulasaal bygewoon het, dui daarop dat dit ‘n groot sukses was. Kenners beskryf Franky Lekas se vertolking van Edith Piaf en Thinus Ries se klavierspel as wêreldklas. Ander was in vervoering oor die moeite wat gedoen is die dekor, formeel-geklede maître d’table en kelners. ‘n meesleurende atmosfeer te skep. Die wyn en heerlike uiesop wat by die koste van die kaartjie ingesluit was, het ook ‘n goeie bydrae gelewer. Die organiseerder, Pieter Swart, het groot waardering vir die ondersteuning wat hy uit die gemeenskap gekry het. Hy was nie vir ‘n oomblik bekommerd oor dié onderneming toe hy die reaksie op sy aanvanklike idee sien nie. Van die 180 beskikbare plekke by die drie konserte is uiteindelik 176 verkoop. Hy meen dit het in ‘n groot behoefte voorsien. Ou inwoners het hom vertel dat daar jare lank ‘n stilte in die kultuurlewe op Bettysbaai geheers het en hoop die Piaf-konsert gaan ‘n herlewing bring. Die kelners was kinders uit die gemeenskap wat vrywillig hul dienste aangebied het, buiten vir fooitjies en die opbrengs uit die verkoop van programme. Hulle was gaande oor die uniform wat hulle moes dra en moes ook opleiding oor die kuns van kelnerwees kry. Die sjef was Antoinette Prinsloo, wat met haar man en al van Vishoek gekom het om te kom help, toe Pieter met reëlings begin vasbrand het. Nog ‘n uitdaging was die Covid-maatreëls, maar Pieter meen dat die getalbeperkings tot die lekker atmosfeer bygedra het. Pieter se volgende kultuurprojek is ‘n visbraai soos in die ou dae op Bettysbaai en hy is op soek na mense wat hom wil help. Hy kan by 083 524 9861 gekontak word. Voorsitter van die Bettysbaai-belastingbetalersvereniging, Wayne Jackson, stem saam dat gemeenskapsondersteuning ‘n deurslaggewende faktor vir die sukses van <em>La Môme Piaf</em> was en bedank ieder en elk wat ‘n bydrae gelewer het.