HERMANUS – Al gehoor van JAPAC (Joint Audit and Performance Audit Committee)? Dit is platweg gestel die ouditkomitee van die munisipaliteit. Ek het nog nooit werklik aandag aan hul werksaamhede gegee nie, maar hoe meer ek lees, hoe meer hou ek van hulle. Hulle krap in die binnegoed van die munisipaliteit rond en vra allerlei ongemaklike vrae. Die notules van JAPAC se vergaderings is nou nie ontspanningslektuur nie, maar daar is allerlei interessante brokkies as jy net soek. Soos dat daar vasgestel is dat daar verskeie munisipale amptenare is wat as deernisgevalle geregistreer is. Ek weet nie wat die minimumloon by die Overstrand Munisipaliteit is nie, maar munisipale amptenare is beslis nie deernisgevalle nie. Nou, volgens JAPAC se notules vir 4 November 2021 se vergadering het hulle toe geweet van vier amptenare wat as deernisgevalle geregistreer was. Dit beteken in praktiese terme dat die betrokke personeellid se munisipale rekening uit die staat se toekenning aan die munisipaliteit betaal word. Hulle sal dus in alle waarskynlikheid ‘n nul-rekening ontvang, dis nou buiten hul groot salarisse. Die munisipaliteit soek nou glo naarstiglik na die oortreders sodat hulle die geld kan verhaal. Dan het ek nog 'n interessante stukkie inligting uit die verlede in JAPAC se notules raakgelees. Na bewering was daar op 13 Desember 2019 grootskaalse bedrog by die verkeerskantore op Hermanus. Die registrasiegeld wat op daardie dag inbetaal is (en moontlik ander geld – ons weet nie) is glo skoonveld. Uit die notule blyk dit dat JAPAC by die munisipaliteit wou weet wat aangaan. Die munisipaliteit het aangedui dat hulle 'n saak by die polisie aanhangig gemaak het, maar dat die nasionale vervolgingsgesag besluit het om nie te vervolg nie. Die twee amptenare wat na bewering betrokke was by die bedrog het intussen die diens van die munisipaliteit verlaat en dit is waar die saak glo eindig. Skynbaar net soos in die geval van die amptenare wat op 'n bedrieglike wyse aandui dat hulle deernisgevalle is – met geen werklike gevolge nie. <strong>Red</strong>: <em>Ek is bereid om geld te waag dat daardie twee amptenare wat voorheen by die verkeerskantoor gewerk het, nou by die volgende munisipaliteit werk.</em>