KLEINMOND – Leeskringlid Hettie Visser het by die afgelope Leeskringvergadering op Maandag 28 Maart ‘n interessante bespreking van die boek <em>The Prague Sonata</em> deur Bradford Morrow aangebied. Aangesien sy self al na Praag, waar die roman afspeel, gereis het, kon sy haar praatjie met fotobeelde opluister. Maar dit is nie al nie: as musiekkenner met B Mus agter haar naam kon sy die teenwoordiges met twee aangrypende musiekvideos meer oor die agtergrond van die verhaal en van musiek laat verstaan. Die musiektema word deurgaans in die roman beklemtoon. Die hoofkarakter is ‘n enigste kind, Otylie. Haar pa het die aand voor hy oorlog toe sou gaan, die manuskrip van ‘n klaviersonate wat hy gekomponeer het, onder haar kopkussing ingeskuif met die woorde: ‘dis engelemusiek vir my klein engel.’ Gedagtig aan hoe haar pa haar altyd aan die slaap gesing het, het sy die sonate goed bewaar. Toe Otylie 30 was, moes sy in afgryse op haar balkon staan en kyk hoe die Duitsers oor haar Tsjeggiese volksgenote marsjeer terwyl beide nasies hul volksliedere sing. Bewus van hoe kosbaar dié oorspronklike manuskrip van haar pa is, wou sy nie dat dit in die hande van die Nazi’s val nie. Sy verdeel die drie bewegings van die sonate toe in drie dele en gee dit vir bewaring vir drie mense, wat dit dan na die oorlog weer bymekaar sou bring....maar hulle het mekaar nooit weer gesien nie. Die tweede hoofkarakter, die pianis Meta, ontmoet 60 jaar later ‘n bejaarde vrou wat aan haar die middelste gedeelte van die sonate toevertrou met die versoek dat sy die ander twee gedeeltes moet opspoor. Onder moeilike omstandighede slaag sy uiteindelik daarin. Dis ‘n lywige roman van 512 bladsye, wat die skrywer wyd laat reis het om inligting te versamel en tien jaar geneem het om te voltooi, maar die geloofwaardige karakters, spanningslyne en onverwagte wendings maak dit ‘n besondere reis saam met die hoofkarakters. [gallery columns="1" size="full" ids="7877"]