KLEINMOND – Die plaaslike Primêre Skool was Dinsdag baie opgewonde om stelle sportklere en ander sporttoerusting van Kleinmond Buildit te ontvang. “Dis tyd dat die plaaslike besighede begin handevat om vir die Primêre Skool meer sportgeriewe te skep,” sê die eienaars van Buildit, JP en en Jeanine Grieb. “Daar is seker nie ‘n besigheid in die dorp waarvan die werkers nie kinders in hierdie skool het nie. Die skool is al sedert 1983 deel van die gemeenskap en hulle het skaars ‘n speelgrond. Sportbyeenkomste moet op die dorp se rugbyveld gehou word en van buitemuurse aktiwiteite is daar omtrent nie sprake nie.” Die kapteins van die krieket-, rugby-, sokker- en netbal-eerstespanne was kennelik opgewonde toe die mense van Buildit die kleurvolle stelle spandrag, rugsakke, kouse, baanvlaggies, waterbottels, fluitjies en bibs begin uitpak. “Ons begin met ‘n klein skenking vandag en ons bedank die onderwysers wat die toerusting gaan gebruik om die talent wat hier is, te ontgin. Buildit hou jaarliks ‘n sokkertoernooi vir die dorp en ons hoop hierdie toerusting is vir die Primêre Skool ‘n aansporing om ook aan die dag deel te neem,” sê Jeanine. Sy moedig besighede ook aan om aan die Gholfdag deel te neem wat Buildit vir die 6e Mei reël om fondse in te samel om vir die skool se vierkant ‘n dak op te sit. Op die oomblik kan daar geen byeenkomste gehou word as dit reën nie, en daar is geen onderdak speelplek vir die leerders nie. Mev Rachel Goliath het die mense van Buildit hartlik bedank vir die skenking. “Dis die eerste keer dat Kleinmond Primêr voel daar is ‘n besigheid op die dorp wat die skool se belange op die hart dra en ons het groot waardering daarvoor,” sê sy. Daar is tans 825 leerders in die skool. <strong> </strong> [gallery size="full" ids="8069,8070"]