KLEINMOND - Die Kunste & Handvlyt-portefeulje van die plaaslike Vroue-Landbouvereniging het die afgelope maandvergadering op Dinsdagmiddag 29 Maart 2022 aangebied. Kuns, in sy wydste sin, is die uitdrukking van kreatiwiteit en verbeelding. Die term sluit diverse media soos skilderkuns, fotografie, woordkuns en ook kunsvlyt in. Voorbeelde van hierdie kuns-items is by die vergadering vertoon. Die Hoofspreker van die middag was Trisa Hugo. Trisa is welbekend vir haar betrokkenheid by gemeenskapskwessies op verskeie terreine in Kleinmond. Sy was ‘n finalis by die ATKV se Woordveertjiekompetisie in 2021 in die kategorie <em>Liefde/Roman </em>en het ook ‘n indrukwekkende lys van gepubliseerde werk. “Ek is passievol oor lees, skryf en tegnologie en sien myself as leser, skrywer, onderhoudvoerder en resensent” het Trisa gesê. Tydens die inperking het Trisa Hugo en haar vriendin, Analize Viljoen, met ‘n reeks aanlyn boekgesprekke met skrywers en mense in die boekbedryf begin, wat nog steeds suksesvol voortduur. Die gehoor het aandagtig na haar interessante loopbaan as boekresensent vir verskeie koerant-en-taalgroepe soos Rapport en Netwerk 24 geluister. Daar is 'n lengtebeperking op boekresensies maar ‘n goeie gemiddelde vir 'n koerantresensie is 1200 woorde. Die opskrif van 'n resensie moet onmiddellik mense se aandag trek. Die openingsparagraaf dra baie gewig, want dit sal in baie gevalle bepaal of ’n leser gaan aanhou lees of nie. 'n Resensie moet 'n argument opbou van die teks onder bespreking. Dit moet nie bloot die storie vertel nie. Die resensent moet altyd versigtig wees om nie die einde van die storie bekend te maak nie. “Daar is ‘n groot verskil tussen ‘n resensie en ‘n boekbespreking. ‘n Resensie spreek ‘n waardeoordeel uit en enige stelling en uitsprake wat gemaak is, moet gemotiveer word” sê sy. Om beelde en emosies met <em>woorde </em>as medium te skep, is net so kunstig soos skilder. Verhale is ook kuns – net in ’n ander vorm. Sonja Viljoen het die kortverhaal, <em>Die Vrou</em> voorgelees. Die gehoor se aandag was gevestig op die verhaal wat geleidelik deur die woorde van die skrywer geskilder is. Die skrywer het daarin geslaag om die gehoor se aandag vas te vang tot op die einde. Die begaafde en talentvolle kunstenaar, Barbara du Bois van Kleinmond het van haar besonderse kunswerke by die VLV- vergadering uitgestal. “Baie van my skilderye is van vroue, want ek kan met hulle identifiseer. Perde is sulke manjifieke diere en ek skilder hulle dikwels. My tekeninge doen ek in pastel en skilderye in olie. Beeldhouwerk vorm ook deel van my portefeulje. Die skoonheid wat ek om my sien, deel ek graag met ander,” sê sy. Die kompetisies vir Maart het fotografie, woordkuns en ‘n skets ingesluit wat by die tema van die middag gepas het. Die vergadering is afgesluit met gesels-en-teedrink ná die tyd. Dankie aan Annie Jooste en haar span vir ‘n verrykende middag. <strong>Alice van Rooyen </strong>