Wyk 10 se raadslid, Theresa Els, is by die raads-vergadering op Woensdag 30 Maart aangewys as die Munisipaliteit Overstrand se verteenwoordiger in die Wes-Kaapse afdeling van die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsassosiasie (SALGA) se Vrouekommissie. Raadsvrou Elnora Gillion sal haar sekundus wees. Sy is deur die Burge-meester, rhr dr Annelie Rabie, genomineer en deur die onderburgemeester, rld Lindile Ntsabo, gesekondeer. Die besluit is deur 25 raadslede ondersteun. Die Wes-Kaapse afdeling van die Vrouekommissie is na 'n Beraad oor Vroue in Plaaslike Regering in 2010 tot stand gebring. Elke munisipaliteit moet ‘n amptelike politieke verteenwoordiger en 'n sekundus aanwys om in die Vrouekommissie te dien. Volgens die verslag voor die raad is daar voldoende voorsiening vir uitgawes hiervoor in die begrotings-poste van die Uitvoerende Burgemeester, Raad Alge-meen en die Munisipale Bestuurder gemaak. In 'n omsendbrief van SALGA aan munisipaliteite word gesê die totstandkoming van die Vrouekommissie is genoodsaak deur die feit dat gender-aangeleenthede nie voldoende aandag geniet het in regeringstrukture van lidlande van United Cities Local Government of Africa (UCLA) nie. SALGA is deel van dié organisasie. Die Wes-Kaapse afdeling van die Vrouekommissie se mandaat is om voor-spraak te doen vir gepaste strategieë en praktyke by munisipaliteite asook om dit te koördineer en te bevorder. Onder meer kyk die kommissie na: - Die verteenwoordiging van vroue in plaaslike owerheidstrukture; - Die doeltreffendheid van die nasionale regering se beleidstukke en wetgewing wat ten doel het om die deelname van vroue aan plaaslike owerheidstrukture te bevorder en geslags-ongelykheid reg te stel; - Spesifieke maatskaplike, ekonomiese, politieke, wetlike en kulturele hin-dernisse wat vroue se deelname aan plaaslike owerheidstrukture belemmer; - Die skepping en versterking van vennootskappe met burgerlike organisasies, veral met vrouebemagtigings-groepe; - Deelname aan nasionale en streeksforums om 'n verenigde stem vir vroue in plaaslike regering te skep; - Aanbevelings oor die voorsiening van geskikte opleiding en kapasiteits-bou vir vroue in plaaslike regering; en - Uitdagings wat in die weg staan om vroue se status te verbeter en toepaslike aan-bevelings wat kan bydra om geslagsgelykheid in plaaslike owerheidstrukture te be-werkstellig. Die onderburgemeester van die Overbergse Distriks-munisipaliteit, rld Helen Coetzee, is in Januarie by SALGA se Wes-Kaapse konferensie tot voorsitter van die provinsiale afdeling van die Vrouekommissie verkies. Rld Els is einde verlede jaar as een van Overstrand se afgevaardigdes in die Distriksmunisipaliteit se raad aangewys.