Vir baie inwoners gaan dit waarskynlik 'n groot teleurstelling wees om te verneem dat wykspesifieke projekte in die konsepbegroting vir 2022/23 vervang word met voorsienings vir sogenaamde omgee-projekte. Dit is een van die vier kostebesparingsmaatreëls wat in die 2022/23 Konsepbegroting toegepas word. Die ander maatreëls was: Dat die beginsel van minimale verhogings gebruik is vir algemene uitgawes wat nie vir kernfunksies aangewend word nie, tensy geldige motiverings, soos kontraktuele eskalasies, aangevoer kon word; Ondersoeke na die noodsaaklikheid van uitgawes vir munisipale bedrywighede; en Die toepassing van die 2019 Regulasies vir Munisipale Kostebeperkings. Wykspesifieke projekte word al jare lank befonds uit 'n vaste bedrag (verlede jaar R400 000) wat aan elke wyk toegeken word. Meesal is kleiner kapitale projekte, soos die aankoop van toerusting vir speelparke daarmee aangepak, maar in Wyk 10 is die brandweerstasie op Pringlebaai in die verlede oor 'n paar jaar met die toekenning gebou. Dit is nie duidelik wat omgeeprojekte is nie en of Wyke 9 en 10 enigiets kan verwag nie. Kapitaalprojekte wat vir die twee betrokke wyke op die begroting vir 2022/23 en die twee daaropvolgende finansiële jare in die pyplyn is, is die volgende: Wyk 9:

Elektrisiteit: vir opgradering van die kragnetwerk word R2,416m in 2022/2023, R2m in 2023/2024 en R2,5m in 2024/2025 voorsien; en

Stormwater: infrastruktuur in Proteadorp gaan met R4,8m in 2023/2024 opgegradeer word.

Wyk 10:

Sport en Rekreasie: R2,868m in 2023/24 en R1,297m in 2024/25 word vir spreiligte op die sokkerveld in Overhills voorsien;

Water: R11m in 2023/24 en R9m in 2024/25 is vir die opgradering van die Buffelsrivier-watersuiweringsaanleg toegeken; en in die komende finansiële jaar gaan die toegangspad daarheen teen R1m opgegradeer word; en

Behuising: Vir die komende jaar word R600 000 vir die opgradering van die informele nedersetting van Overhills voorsien en in die twee jare daarna R1m en R1,2m.

Albei wyke:

Sanitasie: die rioolverwerkingsaanleg tussen Kleinmond en Bettysbaai kry vir fase 1 R9,3m in 2022/23 en vir fase 2 R10,9m in 2022/23 en R8,9m in 2023/24.

Behuising: vir 'n geïntegreerde residensiële ontwikkelings-program in die area word R800 000 vir 2022/23, R1m in 2023/24 en R1,5m in 2024/2025 voorsien.

Water: pypvervanging – vir die hele Overstrand word vir fase 1 R13,6 m in 2022/2023, R3m in 2023/24 en R10m in 2024/2025 voorsien, asook R2,83m vir fase 2 in die komende finansiële jaar.