KLEINMOND – Hoe kom dit dat ‘n siviele ingenieur en ‘n geoloog nou kunsuitstallings in hul tuin in John Daneelstraat wil hou? Maklik, sê Louise Booth, wat op ouderdom 50 sonder enige kunsopleiding begin skilder het. Sy vertel: “Ek was ‘n siviele ingenieur, want my pa het gesê ek moet iets gaan swot vir ‘n behoorlike werk. Dit was ook skeppende werk, maar ek is nou dankbaar om in hierdie seisoen van my lewe te wees waar ek voltyds kan skilder. Ingenieurswese voel nou vir my amper asof dit in ‘n vorige lewe van my was,” glimlag sy. Russel, wat ‘n geoloog by Anglo American was, leef homself nou uit as deeltydse musikant. Hy speel kitaar, baskitaar en dromme in ‘n groep wat soms optree. “Ons is eintlik afgetree, maar nou tree ons op,” sê Louise skertsend. Die Booths woon nou vier jaar op Kleinmond. Die huis met die mooi tuin waarin Louise die afgelope naweek en elke vorige geleentheid ‘n kunsuitstalling saam met ander kunstenaars hou, het sy eie storie. “Ons het ‘n kerkdiens in ‘n wildvreemde kerk met ‘n wildvreemde predikant bygewoon, toe die leraar in die diens na ons toe wys en sê: ‘You will provide a resting place for the weary prophet.’ Ons was verstom. Ons het ‘n aftreehuis begin soek en toe ons op hierdie juweel afkom, het ons net geweet dis die regte plek vir ons. Baie ruimte, met ‘n woonstel vir ‘die moeë profeet’. “Die tuin het my in my geestesoog die kunsuitstallings laat sien wat ek hier kan hou. Ek het self baie by <em>Artists in the Sun</em> by die Dieretuinmeer in Johannesburg uitgestal en ek het geweet die Overberg is ‘n mekka vir kunstenaars. Nou nooi ek hulle om saam met my te kom journey en dit is wat ons hierdie Paas-Saterdag gedoen het.” Kunstenaars wat saam met haar uitgestal het, was Gerda Klopper, Suzie Gallie en Rita Brown. Dit was ‘n uitdaging so saam met die Suidooster met ‘n buite-uitstalling, maar daar het deurlopend mense opgedaag om te kom kyk. “Ons het Saterdagoggend eers gewonder of ons maar moes kanselleer, maar ek het so wyd geadverteer dat dit ‘n verleentheid sou wees as mense hier opdaag en hier is niks te sien nie. Ons tel maar skilderye op as hulle omval of laat hulle plat op die gras lê. Waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg,” glo Louise. <img class="alignnone size-full wp-image-8571" src="https://overstrandherald.co.za/wp-content/uploads/2022/04/kuns-in-tuin-1-2.jpg" alt="" width="700" height="525" />