KLEINMOND - In navolging van Jesus wat kort voordat Hy gevange geneem is, die pasgamaal gevier het, het die VGK Donderdagaand vir ‘n pasgamaaltyd aangesit. Ongeveer 45 lidmate en besoekers het deelgeneem. Die ete het verloop soos Mesiaanse Jode dit vandag nog doen. Daar is op ‘n tradisionele manier kerse aangesteek en vier bekers gedrink. Die pasgabord het die volgende ingesluit: skaapvleis om ons te herinner aan Jesus wat die Lam van God is, Matza (ongesuurde brood) en bitter kruie. Groen pietersielie het herinner aan die Here wat goeie oeste gee, terwyl ‘n appel-en-heuning mengsel herinner het aan die swaarkry van die Jode in Egipte. Vir die Jode was die pasga ‘n herinnering aan die verlossing uit Egipte. Jesus het met sy laaste pasgamaal ‘n nuwe betekenis daaraan gegee deur die nagmaal in te stel en ons aangemoedig om dit tot sy gedagtenis gereeld te gebruik. Ons word herinner aan ons verlossing deur Sy dood aan die kruis. Almal wat aan die maaltyd deelgeneem het, het moeite gedoen om “Bybels” aan te trek. Dit was ‘n geestelik seën om na die Covid-inperkings van die afgelope twee jaar die Paasnaweek op hierdie manier in te lui. <strong>Carl Swart</strong>