KLEINMOND – Dit was ‘n voorreg om Ena Jansen, bekende skrywer, professor in Afrikaans en ontvanger van ‘n handvol letterkundige pryse by die Leeskringvergadering van 25 April te sien optree, waar sy van haar vriendskap met Elisabeth Eybers vertel het. Sy het ook haar doktorale proefskrif oor Elisabeth Eybers gedoen. Lizette van Jaarsveld was die aanbieder van die vergadering. Sy het die gehoor verras deur ‘n klein skatkis met gedrukte velle van Eybers se gedigte rond te stuur sodat elkeen vir hom ‘n gedig daaruit kon haal. Mariaan Kitching het van Eybers se gedigte voorgelees. Ena Jansen het tydens haar verblyf in Nederland as professor aan die Universiteite van Amsterdam en Utrecht ‘n hegte vriendskap met Eybers gesmee en het die gehoor meer van die digter as mens vertel. Ter agtergrond het sy genoem dat Eybers meer as 900 gedigte geskryf het, wat in talle Afrikaanse en Nederlandse bundels opgeneem is – meer as een deur Jansen self saamgestel. Hulle het mekaar leer ken toe Eybers 60 was en Jansen 23. Hulle het dadelik aanklank by mekaar gevind en ‘n besondere vriendskap het daaruit gegroei. “Baie mense sien Eybers as ‘n kluisenaar wat vergaan het van verdriet, maar ek het haar leer ken as ‘n guitige mens wat lekker grappe kon vertel en geniet. Sy was ‘n goeie gasvrou wat daarvan gehou het dat vriende by haar kuier en eet. Sy was lief vir haar sjerrie en selfs dooswyn. Sy het die rustige bestaan gevoer wat sy verkies het.” Eybers het wel glad nie van die kalklig gehou nie en joernaliste moes sukkel om ‘n onderhoud met haar te kry. Sy het dikwels haar sieklikheid as verskoning voorgehou, wat volgens Ena maar half hipokondries was. Haar gedigte het gespreek van alles wat sy as vrou beleef en ervaar- dikwels hartseer of selfs skreiend. Sy is immers van haar bekende man, Albert Wessels, geskei en het as 48-jarige die vreemde ingevaar. Die gedigte wat sy op die boot na Nederland geskryf het, en wat in die bundel <em>Immigran</em>t opgeneem is, het van absolute ellende gespreek. “Dit was vir my voor die hand liggend dat my doktorstesis oor Elizabeth Eybers sou gaan. Ek wou die vraag ondersoek hoe dit moontlik is dat een digter se werk so algeheel en onvertaald deur twee kulture aanvaar kan word,” sê Jansen. Die skripsie handel oor Eybers se digkuns, maar bevat ook ‘n biografie van Eybers. Die skripsie is later in boekvorm verwerk en uitgegee. “Eybers het tot die einde gedig. Haar laaste bundel wat uitgegee is toe sy amper 90 was, se naam is <em>Nuweling</em>, waar sy selfs die ouderdom as nuwe avontuur sien.” Hierdie gedigte is vol humor oor die mankemente en belewenisse van ouer persone. Maar dan het sy ook ‘n aangrypende gedig kort voor haar dood geskryf toe haar seun, Bert, oorlede is. Jansen was by Eybers se sterfbed op 1 Desember 2007 teenwoordig. Daarvan sê sy: “Elisabeth Eybers was tot op die einde ‘n intense, lieflike mens: sterk, maar weerloos.”