KLEINMOND – Die Cliviaklub se lede kom van so ver as Gansbaai tot Pringlebaai, en maak beurte om by mekaar se huise hul vergaderings te hou. Verlede Saterdag was dit by Marinus en Marita Nolte. Die lede het Marinus se tuin en kweekhuise deurgestap, waar hy vertel het van die verskillende spesies clivias wat hy daar kweek. Dis nie nou blomtyd vir clivias nie, maar Marinus het ‘n paar voorbeelde gehad wat wel blom. Daar was ook ‘n demonstrasie hoe ‘n mens jou cliviasaad moet hanteer om die beste plante te verseker. Dis interessant om te weet dat daar ses Cliviaspesies is, maar net een spesie se blom het die bekende trompetvorm. Die ander vyf spesies se blomme het ‘n klokkievorm. Marinus is ook lid van die orgidieklub en die lede kon sommer dié eksotiese blomme in sy versameling ook bewonder. Die Cliviaklub sal graag nuwe lede by hulle wil verwelkom. Om die bestaande lede so opgewonde oor hul stokperdjie te sien, laat ‘n mens dink dat dit ‘n uitsonderlike liefhebbery moet wees. “Die lekkerste vir my is dat ons almal afgetredenes is, maar as ons bymekaarkom is dit nie ‘n gekla oor pille en pyne nie – ons kan net nie uitgepraat raak oor ‘n nuwe variant wat ons gekweek het nie en ons spog bymekaar met ons foto’s soos ander seniors met hul kleinkinders spog,” glimlag Willem Fourie. Bel hom by 083 419 7641 as jy by hulle wil aansluit om meer van Cliviakwekery te leer. [gallery size="full" columns="2" ids="9092,9095,9094,9093"]