BETTYSBAAI – Die terugkeer van ‘n verlore of dalk geleende pienk reddingsboei op die hoofstrand hier het verlede week die Herald se aandag getrek, maar in ons poging om dit te rapporteer word die kroon gespan toe daar binne dae ‘n splinternuwe bykomende een digby die mensereddershokkie opgerig word. Ons wou by die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) vasstel of die verdwyning of diefstal van pienk reddingsboeie ‘n probleem is, toe hoor ons dat, danksy mildelike skenkings, meer sulke boeie op ons strande aangebring gaan word. Daar is groter bewustheid oor die rol van die projek wat waarskynlik gehelp het om iemand aan te spoor om die verlore boei terug te bring, sê Andrew Ingram, bestuurder van die NSRI se Verdrinkingsvoorkomingsprogram. “Ons is bewus van 116 mense wat al gered is danksy die gebruik van die Pienk Boei,” vertel hy. “Wat Overstrand betref, was die mees onlangse redding ‘n goeie voorbeeld van hoe vinnig iemand met ’n skeurstroom in die moeilikheid kan beland. “Twee NSRI-vrywilligers het in Februarie tydens opleiding hul misreken met die krag van ‘n skeurstroom. Merwe Krige en Chris Venter, reddingswemmers van die plaaslike NSRI-stasie, en Pieter le Roux, ‘n omstander, kon hulle te hulp snel met ‘n pienk reddingsboei wat op Kleinmond se strand geplaas was. “Daar is gevaarlike skeurstrome op Bettysbaai en Kleinmond. Die pienk reddingsboeie is werklik ‘n goeie manier om mense drywend te hou tot hulp opdaag. Onopgeleide mense moet die boei na die persoon in nood gooi. Slegs opgeleide redders kan met so ‘n boei die see ingaan om ‘n drenkeling te help. “Borgskappe van maatskappye en skenkings stel ons in staat om die reddingsboeie te koop en in die gebiede waar dit nodig is te plaas. Soms vra skenkers dat die boeie by spesifieke strande geplaas word en dit is waarskynlik hoekom daar bykomende boeie na Kleinmond se NSRI gestuur is,” volgens Andrew. Die Pienk Reddingsboei-program is in 2017 deur die NSRI afgeskop en het sedertdien al internasionale belangstelling gelok. Onlangs is daar 25 na Nieu-Zeeland gestuur om daar getoets te word en dit word ook in Mosambiek gebruik. Die konsep is eenvoudig. Die helderkleurige reddingsboeie word op strategiese plekke by strande en ander swemplekke geplaas met duidelike grafiese instruksies oor hoe om dit te gebruik. Ook die naaste NSRI-tak se nommer word op die inligtingsbord geplaas. Al hoe meer plaaslike inwoners raak ook betrokke om die reddingsboeie op te pas en in stand te hou, sê Andrew. Dit is opmerklik dat daar meer verdrinkings is op gevaarlike plekke soos by Gqeberha en aan die Wildekus van Oos-Kaap, waar daar nog nie voldoende ondersteuning vir die projek is nie. Daar is verskeie opsies om finansieel by te dra op die NSRI se webwerf by <a href="https://www.nsri.org.za/support-us/donate">https://www.nsri.org.za/support-us/donate</a>. <img class="alignnone size-large wp-image-9179" src="https://overstrandherald.co.za/wp-content/uploads/2022/05/Pienk-Boei-foto-3-002-1024x707.jpg" alt="" width="1024" height="707" />