KLEINMOND - Die uitgaande bestuurder van Kindersorg SA , Theresa Els, wat einde verlede jaar tot die raad van die Munisipaliteit Overstrand verkies is, is tevrede dat die werk wat sy by dié instansie gedoen het nou op so ‘n vlak is dat sy dit met trots aan haar opvolger kon oorhandig. In die proses van sestien jaar is sy ook versterk en toegerus vir die nuwe uitdagings wat voorlê. Haar opvolger is me Annemie Coetsee, ‘n opgeleide maatskaplike werker, wat na ‘n deeglike keuringsproses met behulp van ‘n personeelagentskap aangestel is. Theresa se benadering van die begin af was dat die plaaslike Kindersorg wel in die welsynbedryf is, maar soos ‘n besigheid bedryf moet word en dat daar goeie samewerking tussen al die komponente van die diens moet wees. Kindersorg SA Kleinmond bestaan uit ‘n kantoor vir maatskaplike werk, die vroeë kinderontwikkelingsentrums Heideland, Bambanani, Siyabulela en Pikkewyntjies, die Jeugsorgsentrum en Ithemba, die naskoolleersentrum. Stelsels is vir die bestuur van finansies en menslike hulpbronne ingestel. Befondsing is verkry vir die salarisse van die maatskaplike werkers, waarvan daar drie is. Verder is die dienste van hulp-maatskaplike werkers en ‘n gemeenskapwerker bekom en daar is suksesvol aansoek gedoen vir Lotto-toekennings. Wat sy geleer het, is omgee - empatie eerder as simpatie, om te verstaan waarvandaan mense en hul probleme kom. Haar oë het oopgegaan vir die nood in alle dele van die gemeenskap en hoeveel mense sukkel om ‘n bestaan te voer. By die personeel het sy baie oor die geskiedenis van die Ou Hawe en die ontstaan van Proteadorp geleer. Sy moes ook leer om haar rug styf te maak om veranderinge tot voordeel van die gemeenskap deur te voer, soos toe die diensure van die vroeë kinderontwikkelingsentrums verleng moes word van eenuur tot vyfuur in die middag en dat hulle ook in skoolvakansies oop moes bly. Wat Theresa die meeste gaan mis, is die vakansieprogramme vir kinders. Deur probeer- en-tref het hulle geleer wat werk en wat nie werk nie … en sy het dit geniet om aan die voorpunt te wees. Die groot uitdaging wat nou vir haar as raadslid voorlê, is om stelsels vir opvolg en terugvoer in plek te kry. Daar is nie twyfel dat Theresa dit gaan regkry nie.