[caption id="attachment_13933" align="alignnone" width="700"]<img class="size-full wp-image-13933" src="https://overstrandherald.co.za/wp-content/uploads/2022/08/vlv-julie-22-b-2.jpg" alt="" width="700" height="594" /> ??[/caption] KLEINMOND - Op 26 Julie 2022 het VLV-Kleinmond se Leefstyl-portefeulje die maandvergadering in die Kerksaal aangebied. Ná die lang vakansie het daar ‘n opgewondenheid tussen die lede geheers. Talle besoekers het heerlik saamgesels en almal was duidelik bly om mekaar weer te sien. Die voorgeskrewe projek van die Vroue-Landbou-vereniging van Kaapland vir 2022 is <em>“Bewaar ons Erfenis</em>.” en die Kleinmondtak wil vra dat elke lid ‘n Erfenisresepteboek saamstel waarin ou familieresepte, eie beproefde resepte met foto’s en notas bymekaar gesit word om op dié wyse ons kos-erfenis te bewaar. Die aangewese persoon om hiermee leiding te gee en lede se belangstelling en entoesiasme aan te wakker, was die erfeniskoskenner, Dine van Zyl. Hierdie bekroonde Afrikaanse skrywer, uitgewer en vryskutjoernalis het ver-skeie boeke geskryf - veral kookboeke. Sy het verskeie Suid-Afrikaanse toekennings vir haar publikasies ontvang en was in 2008 die wêreldwye wenner van die <em>Gourmand Best Cookbook in the World</em>-kompetisie met <em>Agter die lekker aan</em> en in 2013 was sy die Suid-Afrikaanse wenner: <em>Gourmand Best Cookbook in the World</em> met <em>Die Groot Boerekosboek</em>. Sy was ook die aanbieder van die TV-reeks “Boerekos met Dine van Zyl”. Dine het waardevolle wenke en riglyne aan die gehoor deurgegee vir hul eie familie-resepteboek. Sy het voorbeelde uit haar eie <em>Boerekos</em>-boeke haar ma se resepteboeke gewys, wat interessante kantlynwenke bevat. ‘n Voorwoord is belangrik met besonderhede óór wie en vír wie die boek saamgestel word. Foto’s van geregte uit eie kombuis en interessante stories van familielede voeg ‘n hele nuwe dimensie by vir die leser. Gee besonderhede, nie net van die resep nie, maar ook die metode wat sukses verseker. ‘n Indeks met bladsynommers maak dit baie makliker om dan resepte op te soek. Vooraf was die gehoor se aandag heeltemal gefokus op Susan Botha se insiggewende demonstrasie van nuwerwetse lugbraaiers. Hierdie lugbraaiers word gebruik om kos vinniger gaar te maak en is dus meer ekonomies. Daar word minder/geen olie gebruik nie en is dus ‘n gesonder manier van kos gaarmaak. Die gehoor was veral verras en beïndruk met hierdie nuwe kombuistoerusting toe hulle ná die vergadering kon proe aan beskuit wat gedurende die loop van die vergadering in die lugbraaier uitgedroog is. Hulle kon ook aan happies smul wat blitsig vóór hul oë gaargemaak is. Die begaafde klavierspeler Thinus Ries en soliste Hilda van Wyk en Derrick de Roos het die gehoor met hul suiwer, sterk sangstemme beïndruk. Hilda het <em>O</em> <em>ma babbino caro</em> gesing en Derrick <em>If I were a rich man</em>. Hulle het <em>Edelweiss</em> en <em>Somewhere -</em> <em>there is a place for us</em> as duette gesing. Interessante en waardevolle bypassende uitstallings van vroeëre kombuisartikels uit ‘n privaat versameling en memorabilia uit die 1950’s het die projek “Bewaar ons Erfenis” verder uitgebeeld. Die vergadering is afgesluit met ‘n gesellige teedrink ná die tyd.