HANGKLIP/KLEINMOND – Met Vrouedag op hande het die Herald ‘n paar van ons bekende inwoners en ‘n paar kunstenaars gevra om hul idee van vrouwees of vroulikheid aan ons deur te gee. Hier is die antwoorde wat ons teen spertyd gekry het. Alice van Rooyen en Hermien van Zyl, VLV Kleinmond Vroue verteenwoordig vir ons by VLV die Bybelse vereiste van dissipelskap: “Julle is die sout van die aarde...” Vroue het die verantwoordelikheid om geur, smaak, daardie iets onmisbaars aan die lewe en die samelewing te gee – soos sout dit aan enige gereg gee. Waarom anders het die beste sout, Himelaja-sout, 'n pienk skynsel? Maar meer interessant word híérdie verdere vereiste in Markus 9:50 voorgehou: “Julle moet werklik sout wees en in vrede met mekaar lewe”. Dit is vroue ook: vredemakers, brugbouers. Delicia Appel van die Harold Porter Nasionale Botaniese Tuin Vrouwees behels soveel verskillende uitdagende rolle en dit is soms moeilik om by te hou en nie jouself te verloor nie. Ek glo God het elkeen van ons uniek geskape - ons moenie iemand anders probeer wees nie. Word die vrou wat God bedoel het jy moet wees. Wees lief vir jouself en moenie skuldig voel dat jy soms nie kan cope nie; jy bly ‘n vrou duisend! Gean Jooste van Helpende Hand. Ek sien vrouwees as die wese wat met respek, liefde, vreugde, vrede en hoop, haar lewensmaat, kinders, familie en gemeenskap ondersteun en ophef! Gerard Scholtz Vir my moet 'n vrou die kenmerke van 'n beskaafde mens hê: eerlikheid, netheid, elegansie, intelligensie. Grant Cohen Ward 9 councilor Growing up in a household with a single parent after my father passed away, it showed me the absolute strength, love, and determination of a woman. Now I get to look on at women in leadership positions in awe, as the playing fields are still not level and a lot of women still must put up with men not giving them the respect they have worked for. Jacqueline Leuvennink, skrywer 'n Vrou se gevoel van eiewaarde is dikwels nou verweef met die mense om haar: haar man, kinders en vriende. Kry vir jou vroeg in jou lewe iets wat net joune is, iets wat vir jou betekenis het en 'n veilige, eie ruimte bied waar jy niemand se vrou of niemand se ma is nie. Dan het jy ook weer meer om aan jou naastes te bied. Jan Momsen, predikant Sedert vroue meer prominent in die kerk hul rol kon vervul, is daar na my gevoel ʼn groter klem gelê op verhoudings. In die kerk en die samelewing is dit tog die belangrikste saak. En hoewel die Here dit nog altyd vir ons gesê het, dank ons die vroue wat ons net weer daarop gewys het. Ek het êrens gelees dat wat vroue ook al doen, hulle dit twee maal so goed soos mans moet doen om halfpad so goed soos mans te lyk. Gelukkig is dit vir hulle nie te moeilik nie!  Laurika Stander, apteker Ek glo vroue is God se favourite – die appel van Sy oog. Hy het geweet ons is sterk en wys genoeg om al die uitdagings in die lewe aan te pak. Vrouwees is vir my die sagtheid en kleur wat jy in ander se lewe bring, maar ook die vasberadenheid en deursettingsvermoë en duisende emosies wat wys jy is ook net mens. Nydia Carelse, sakevrou Vrouwees of om 'n vrou te wees is nie vir “boeties” nie! Dit is die behoorlike “hare op jou tande hê” 24/7, soos Wonderwoman elke dag op te kan staan, so wys te kan wees soos Salomo en net BAIE dieppppppppp asemhalings toe te pas vir die res! Strauss Odendaal, sakeman Vrouwees is om met vrymoedigheid haar drome te kan nastreef. Sy mag ook in die môre opstaan, in die spieel kyk en vir haarself sê “Ek is deksels mooi vandag !” Sy het keuses. Sy maak haar 'n veilige hawe vir die wat haar liefhet. Trisa Hugo, skrywer Vrouedag simboliseer vir my die innerlike krag van vroue en hul vermoë om te organiseer en saam te werk - en dinge gedoen te kry. Vrouwees is die sagtheid van vroue, die deernis van ʼn vrou wat haar kind versorg, bloeiende knieë behandel en ʼn man kan troos. Vrouwees is blomme, sjokolade, lipstiffie en parfuum. Dieselfde vrou kan selfs ʼn verfkwas vat en bakstene aandra as sy moet. Vroue is ook tierwyfies wat vir hul kinders en hul mans baklei. ʼn Vrou sal maak of sy nie lus is vir iets nie, as daar te min is vir almal. Vroue is liefde. Vroue is vloeibaar soos water, veranderlik soos die wind en kan skroei soos vuur, want haar naam is Vrou. Troula Goosen, skrywer Om vrou te wees? As my ma die vraag moes beantwoord, sou sy sonder huiwering gesê het dit beteken om ’n op-jou-plek vrou en ma te wees, om jou mense en jou huishouding te koester en te versorg al beteken dit dat jy jouself laaste stel. Vandag kan ek antwoord: As vrou kan jy enigiets wees of word, jy hoef nie meer in ’n boksie te pas en grense vir jou drome te stel nie. Tog, die goue draad wat vroue van alle tye en plekke aan mekaar bind, is dat ons die magiese vlammetjie wat lewe gee en laat groei in ons hande hou. Ons is ANDERS. En dit is wonderlik.