17.7 C
Kleinmond
Friday, September 20, 2024
spot_imgspot_img

OAK bied wêreldklaskonserte aan!

HERMANUS – Klassieke musiekliefhebbers in Overstrand is bevoorreg om ‘n organisasie soos Overstrand Arts/Kunste (OAK) te hê wat wêreldklas-uitvoerings na die plaaslike verhoë bring.

Dit is maar net een van die reaksies wat OAK-sekretaresse René du Plooy ontvang het na die groep Take Four Piano Quartet se aanbieding twee weke gelede op Sondag 13 Augustus hier in die NG Kerkgebou.

Eerskomende Sondag (27 Augustus) tree die egpaar Aristide, een van die land se voorste tjelliste,  en Myfanwy (Price) du Plessis op. Hy is voormalige hoof hoboïs van die KZN Filharmoniese Orkes. Die optrede is in die Ouditorium van die Overstrandse Burger-sentrum. Hulle werk tans in die Verenigde Koninkryk en is op besoek aan Suid-Afrika.

En op Sondag 1 Oktober is dit die pianis Ben Schoeman se beurt om konsertgangers op ‘n fynproewersgeleentheid mee te sleur.

OAK bied 12 konserte per jaar aan, vertel René. Ledegeld beloop vir ‘n enkelpersoon R300 en R500 vir ‘n paar, wat kan bestaan uit enige twee mense wat gereeld konserte wil bywoon. Lede betaal slegs R150 per kaartjie teenoor die R220 wat dit gewoonlik kos.

Dit is inderdaad die geld werd om aan te sluit en altyd vooruit kennis te kry van enige konserte wat aange-bied word, sê sy.

Kontak gerus vir René du Plooy op 082 940 4238 of by renedup@telkomsa.net vir meer inligting.

Die Take Four Piano Quartet, wat ‘n gehoor van sowat 140 op 13 Augustus in vervoering gehad het, bestaan uit Zanta Hofmeyr (viool), Jeanne-Louise Moolman (altviool), Susan Mouton (tjello) en Elna van der Merwe (klavier). Nie net is hulle al jare lank vriende nie, maar hulle word ook elkeen as die land se knapste musikante in hul veld beskou.

Elkeen het ‘n indrukwekkende solo-loopbaan maar in Augustus verlede jaar het hulle hul droom verwesenlik om saam op te tree en besluit dat hulle dit voortaan jaarliks in Vrouemaand gaan doen.

‘n Lid van die gehoor het die OAK-bestuur laat weet dat die konsert absoluut manjefiek was omdat die groep volledige komposisies gespeel het en nie net sekere bewegings nie. Die middag was genotvol met musiek van hoogstaande gehalte, het die persoon laat weet. Die uitvoering was ‘n viering van vriendskap en die sielsverrykende krag van musiek!

Nog een het geskryf dat die konsert ‘n besondere geleentheid was.  “Ek ken Brahms goed en die dames het ons betower met hulle musikaliteit, hulle tegniese virtuositeit, hulle saamspel, hulle deeglike kennis van die musiek, van waaroor Brahms alles gaan.

Die Dvorak was net so goed gespeel maar die intellektuele uitdaging was by Brahms.”

Die kerkgebou is as ‘n knus ruimte vir so ‘n konsert beskryf.

Eerskomende Sondag se program bestaan uit werke van Elgar, Bach, Gliere, Morricone (Gabriel se hobo)  en Beethoven.  René Du Plooy kan by 082 940 4238 of renedup@telkomsa.net gekontak word om plek te bespreek.

spot_img

Latest Posts

PRAAT MET ONS

    error: Content is protected !!