14.4 C
Kleinmond
Friday, April 12, 2024
spot_img

Reën of te not – die kaskarre wou jaag

KLEINMOND – Agtien kaskarre het Saterdagoggend 30 September vroeg al gereed gestaan om weg te spring in die SupaQuick kaskarrenne vir 2023. Maar die weer het nie saamgespeel nie. ‘n Misreën het aanhou val. ‘n Paar mammas het laat weet hul kinders kan nie in die reën deelneem nie. Die organiseerders het gewonder – gaan ons uitstel, afstel of wag ons maar? Gelukkig het YR voorspel dat die reën gaan verbytrek en ons het bly hoop dat ons tog die kaskarrenne kon aanbied.

Teen 11.00, na twee uur se gewag, het die kinders aangedring: asseblief, ons wil nou begin jaag! Gelukkig het die reën gewyk en die spanne van drie en hul kaskarre het in afwagting in Skoolstraat onder die wegspringboog bymekaargekom. Eers is die reëls aan almal verduidelik. Toe moes al die deelnemers saam met die baanbeampte die roete loop om seker te maak elkeen verstaan presies waar elke spoedbult, draai en opdraand op die baan is.

Terug by die wegspring moes die spanne hul karre se nommers en borge se advertensies plak. Almal het gewonder wie gaan teen wie jaag. Nommers is uitgeroep en twee-twee het die spanne teen mekaar oor die 500m-baan gejaag.

Teen die eerste afdraand was daar ‘n paar klein ongelukkies van karre wat omgeslaan en bestuurders wat oor die teer gerol het. Gelukkig was daar geen ernstige beserings nie. Die noodhulp was gou op die toneel om te help met pleisters, ’n salfie en ‘n trooswoord. Die kaskar is op sy wiele gedraai en hulle het voortgejaag.

Nadat al die spanne aan twee renne deelgeneem het, het ons eers middagete gehou. Die deelnemers kon rus en almal kon verversings koop – worsrolle, pannekoek, wafels en roomys, koeldrank en lekkers.

Na die pouse het die spanne weer aangetree vir die twee uitkloprondtes. In die 36e ren van die dag het kaskar #2 teen kaskar #17 in die finaal deelgeneem. Die laaste geruite vlag het vir kaskar #2 gewapper. Hierdie kampioenspan vir 2023 bestaan uit Cohen Arthur, Rinaldo Arthur en Cassian Visagie.

Die VGK Kleinmond bedank graag die volgende individue en instansies vir hul ondersteuning: Hoofborg – SupaQuick. Borge vir kaskarre: Overstrand Paneelkloppers, Build It, Postlink, APS en die Hull-gesin. Pryse vir wenners: Pizza World, Carry me Home, Stoep Cafe, Bistro 14 en Ground Central.

2. Cohen Arthur, Rinaldo Arthur en Cassian Visagie ontvang hulle goue medaljes.
spot_img

Latest Posts

PRAAT MET ONS

    error: Content is protected !!