17.7 C
Kleinmond
Tuesday, April 23, 2024
spot_img

Auto Paint Supplies verruil die stad vir Kleinmond

KLEINMOND – William en Bronwyn Jackson het met hul familie-onderneming, Auto Paint Supplies, deur die 25 jaar wat hulle in Kaapstad in bedryf was, bekendheid verwerf vir die noukeurige kleurpassings wat hulle in motorverf maak. Dit geld nie net vir paneelklopwerk by motors nie. Hulle meng en verskaf ook verf vir die gasvryheidsbedryf, huishoudelike en industriële doeleindes.

“Ons het in Augustus ons basis van Parow in die Kaap na Kleinmond verskuif om ons lewe ‘n bietjie rustiger te maak. ‘n Mens kan nie meer kinders in die stad grootmaak nie. Hulle word sommer op pad na en van die skool beroof as hulle stap of fietsry. Kleinmond is mooi in die middel van ons kliëntebasis – Hermanus en Gansbaai na die een kant en Kaapstad na die ander kant,” verduidelik William.

“William is bekend as een van die top colourmatchers in die land,” spog Bronwyn met haar man. “Ons verskaf ook alles wat saamgaan met die verfwerk – maskeerband, spuitkannetjies, skuurmiddel, skoonmaakmiddels, noem maar op. Selfs vir mense wat net ‘n skaaf- of stampmerkie op ‘n motor wil regmaak, meng ons die presiese kleur en plaas dit in ‘n aerosol-kannetjie vir maklike en herhaalde gebruik. Dit werk ook goed as mense byvoorbeld self ‘n hek of ander ysterwerk wil verf.”

Die Jacksons het al voor Covid begin om ‘n huis in Bettysbaai te bou. Dit het hul naweke in beslag geneem, maar as hulle die kans kry, hou hulle van stap, fietsry of om piekniek te gaan hou. “In Bettysbaai het ons piekniek al verander na karniek, omdat die wind dikwels ‘n piekniek buite op ‘n kombers onmoontlik maak,” lag Bronwyn. Hulle het drie kinders.

“Ons kliënte word ons familie, want ons gee om vir elkeen se omstandighede. Ons kantoor is ‘n hawe waar hulle sommer net kan inval vir ‘n koppie koffie en geselsie. Hier is ook altyd ‘n bottel lekkers op die toonbank. Elke mens het soms ‘n soetigheidjie nodig as die lewe bitter raak.”

“Ons hou ons pryse realisties en glo daaraan om te leef, maar ook om ander mense te laat leef. Solank ons ons brood en botter kan verdien, is ons tevrede,” sê hulle.

Gaan besoek hul winkel in Haweweg no 4, langs ASK, of skakel hulle by 073 435 1971 of 065 966 8291.

spot_img

Latest Posts

PRAAT MET ONS

    error: Content is protected !!