21.6 C
Kleinmond
Tuesday, October 15, 2024
spot_imgspot_img

Kuns en onderwys borrel by Arina Myburgh uit

PRINGLEBAAI – Arina Myburgh gee al bykans 30 jaar kunsklasse. As groepsmentor, onderwyser en lektor het sy reeds haar merk gemaak. Sy is self kunstenaar met talle solo en groepsuitstallings onder die gordel, maar haar hart is daarin om mense te leer kuns doen en om goeie kuns te kan waardeer.

Sedert hulle gesin in Desember 2015 hier ingetrek het, het haar Montage-studio bekend geraak vir haar  kunswerke en kunsonderrig. Hulle goed was nog nie eers uitgepak nie, toe gaan hang sy al van haar skilderye, wat sy spesiaal per motor saamgebring het, hier by ‘n plaaslike kunsgroep se uitstalling. Dit was nie lank voor sy as ‘n lid by die Pringle Bay Art and Craft Route aangesluit het, en met haar uittrede ook twee termyne as voorsitter gedien het nie. Hier kon besoekers die vele kunstenaars van die dorp in hul ateljees  gaan ontmoet. Ongelukkig het dit doodgeloop toe Covid toeslaan.

“Kuns is ‘n gelykmaker. Enigiemand wat begin kuns doen is op dieselfde vlak en dit maak my opgewonde om te sien hoe kinders en volwassenes hul eie waarde as skeppendes begin besef en ‘n gelukkiger mens word. Dan voel ek vervuld as kunstenaar en as mentor,” vertel sy entoesiasties.

Arina, wat self begin kunsklasse neem het toe sy drie jaar oud was, neem kinders van ses jaar af in vir klasse. Van haar studente het op 8-jarige ouderdom vanjaar al uitstekend by die Kaapse Eisteddfod gevaar.

“Ek glo ‘n mens moet van jongs af met kuns begin, maar dat dit ook nooit te laat is om onderrig te ontvang nie. By klein kinders gaan dit meer om skeppingsgenot en om hulle ‘n liefde vir kleur en vormgewing te laat ontwikkel. Ek gee aan hulle ‘n kreatiewe woordeskat. Later gaan dit oor tegniek, konseptualisering en veral die waardering van goeie kuns. Suid-Afrikaners is geneig om meer op trends te fokus as om werklik goeie kuns raak te sien en as belegging aan te skaf. Maar my hooffokus is om groei in my studente te beleef en om elkeen sy eie nis in dié kunsgenre te laat vind. Na al die jare is dit vir my maklik om te sien in watter rigting ‘n student kan beweeg: beeldhou, tekenkuns, olieverf, waterverf, akriel, ontwerp…noem maar op. Ek glo elke mens het die vermoë om kreatief te wees. God is die Skepper en om te skep is in ons DNA ingebou.”

Arina het deur haar lewe baie mentors gehad – sommige bekende kunstenaars soos die befaamde beeldhoudster, Laura Rautenbach. “Ek was geseënd om Beeldende Kuns opleiding aan die Universiteit van die Vrystaat te kon studeer, maar selfs voor dit was my mentors as kind almal ‘n mengsel van kunstenaar in eie reg en onderwyser. ‘n Kombinasie wat vir my die ideaal geword het. Hulle het my potensiaal raakgesien en ontwikkel. My doel is nie om van my studente klein Arina’tjies te maak nie. Elkeen moet sy eie vryheid van ekspressie hê. Ek kan my studente met enige tegniek help, omdat ek ondervinding in alles het en ‘n punt daarvan maak om op hoogte te bly van nuwe verwikkelinge en produkte.”

Arina by haar skildery: Waarde.

Met haar baie rondry vir klasse, haar gesinslewe met eggenoot Pieter en seuntjie Joshua, landwye aanbieding van meestersklasse en slypskole, uitstallings en baie meer, kry sy nie meer so baie tyd om ure aan ‘n skildery te spandeer nie. “Maar ek het ‘n tegniek ontwikkel om as’t ware ‘n vinnige geboorte aan ‘n skildery te gee. Ek werk die hele proses haarfyn in my kop uit en gaan sit dan eers by my esel. Soms kry ek so ‘n skildery binne ‘n paar uur klaar.”

Benewens die individu- en familieportrette waarvan sy opdragte vanoor die wêreld kry, skilder Arina graag self portrette van vroue. “Ek is nie ‘n feminis nie, maar ek het ‘n oog vir vroue en die spesifieke kwessies waarmee ons uitgedaag word. Dis my voorkeurtema. Ek wil praat deur my skilderye en as Christenskilder wil ek hê dat die Gees van God wat in my is, ook in my skilderye uitkom.”

Besprekings is nou oop vir inskrywing by Montage Studio vir 2024. Skakel Arina by 064 810 8844 vir meer inligting.

spot_img

Latest Posts

PRAAT MET ONS

    error: Content is protected !!