KLEINMOND – Marco en Tilanie Pretorius het met die blink plan vorendag gekom om vir Kleinmonders en omstreke tydelike kantoorspasie te bied – met ‘n uitsig! Koffie of tee en versnaperinge kan ook van Tilanie se koffiewinkel, Coffee@Supaquick bestel word. Jy kan selfs jou vierpoot-vriend saambring – mits hy in toom gehou word.
“In die stede is dit lankal ‘n groot ding. Mense wat van die huis af werk, wil soms ‘n bietjie uitkom. SPACE Coworking Offices bied ‘n lugversorgde ruimte met ‘n lessenaar en internetfasiliteite. Daar is nie iets soos kragonderbekings nie, want alles werk met sonkrag. Mense bespreek vooraf op ons webtuiste, bring hul skootrekenaar en kom werk hier vir ‘n uur, oggend, middag of voldag. Ons het ook pakette vir mense wat langer periodes wil bespreek,” vertel Tilanie.
SPACE is in een van die vraghouers by Quick Storage langs Supa Quick ingerig. Daar is groot vensters op twee kante aangebring sodat mense ‘n uitsig op die see en berge kan hê. Die werkstasies is afgeskort en elk het ‘n gemaklike kantoorstoel. Daar is goeie sekuriteit met ‘n hekkode.
“Hierdie is ons eerste toetsprojek. As dit ‘n sukses is, kan ons nog van die vraghouers so inrig. Ons het al heelwat navrae gehad – selfs mense wat wil hoor of hulle net hier kan kom sit en lees,” sê Marco. Hy werk by Supa Quick, dus is hy en Tilanie naby genoeg om te help as iets nodig is.
Tilanie vertel dat hulle op die idee gekom het toe al hoe meer mense in die koffiewinkel kom sit en werk het – soms vir ‘n hele dag. “Coffee@Supaquick het ook maar beperkte ruimte en soms moes ons kliënte wegwys omdat al die sitplekke vol was. Nou gee ons vir die mense wat wil werk hierdie opsie, maar op ‘n ander vlak.”
Die tariewe is soos volg: R95 per uur, halfdag oggend van 8:00 tot 12:30 of middag van 12:30 tot 16:30 – R220. Voldag – R350. Daar is ook ‘n vyfdag-flexitarief teen R1250.
Whatsapp 072 393 8221 of gaan loer in vir meer inligting.