11.1 C
Kleinmond
Tuesday, July 23, 2024
spot_imgspot_img

Kleinmond/Sarmiento kulturele uitruilprogram vergadering

KLEINMOND – Gereelde lesers van die Herald sal weet dat ons sedert 2020 noue bande met die dorp Sarmiento in die Patagonië streek van Argentinië, gebou het. Sarmiento is die tuiste van baie van die afstammelinge van die Afrikaanse boeregemeenskap wat na die Anglo-boereoorlog in 1902 na Argentinië uitgewyk het. Ons het in 2020 saam met die gemeenskap in Sarmiento besluit om ʼn studente- uitruilprogram te begin. Die eerste twee jong Argentynse studente het Kleinmond in Januarie 2020 besoek. Sedertdien het die Covid pandemie die program erg ontwrig. Die Argentyne het ons nou gevra om dit weer te hervat.

Ons hou Dinsdag 20 Februarie by die Herald se kantoor op Kleinmond ʼn vergadering om die uitruilprogram se wiele weer aan die draai te kry. Ons sal ʼn nuwe komitee moet kies wat die program vir die volgende jaar sal moet dryf. Die mikpunt is om ʼn jong Kleinmonder aan die begin van 2025 vir ongeveer 10 dae na Sarmiento te stuur. Die gemeenskap daar sal hulle ontvang, huisvesting bied en ʼn program aanbied om die jong besoeker blootstelling te gee aan hul gemeenskap en kultuur. Kleinmond sal terselftertyd gasheer vir een of twee jong Sarmientieno’s speel. 

Een van die groot uitdagings van die nuwe Kleinmond komitee gaan wees om geld in te samel vir die vliegtuigkaartjies van die jong Suid Afrikaner. Dit het bitterlik duur geraak. Voor dit is daar natuurlik nog ander besluite soos wie Kleinmond gaan verteenwoordig. Waar gaan die Argentynse besoekers bly en hoe gaan hul program lyk. Dit is almal besluite wat deur die nuwe komitee geneem sal moet word.

Ons dink die uitruilprogram bied ʼn wonderlike geleentheid vir jongmense om hul uitkyk op die wêreld te verbreed en nuwe dinge en kulture te ondervind. As u wil deel wees van die projek (veral jongmense) is u welkom om die vergadering om 18:00 op Dinsdag  20 Februarie by die Herald se kantoor by te woon. Stuur asb ʼn rsvp na redakteur@overstrandherald.co.za sodat ons weet wie gaan kom en darem ʼn ietsie te ete en te drinke kan voorsit.

spot_img

Latest Posts

PRAAT MET ONS

    error: Content is protected !!