21.6 C
Kleinmond
Tuesday, October 15, 2024
spot_imgspot_img

Hawe se winkeliers keelvol vir kinders wat hul teister

KLEINMOND – Winkeliers hier in die hawe het Dinsdagaand by ‘n vergadering gesê hulle het nou genoeg gehad van die groepie kinders wat besighede in die gebied besteel en teister. Hulle dring daarop aan dat beide die polisie en munisipale wetstoepassers strenger optree.

Die vergadering wat byeengeroep is deur die belastingbetalersvereniging en Kleinmond Straatwag is gelei deur David Peddle, voorsitter van die Kleinmond Belastingbetalersvereniging. Dit is ook bygewoon deur Kleinmond Straatwag se Gustav Erlank, raadslid Grant Cohen, die polisie en munisipale wetstoepassing, Tydens die vergadering is besluit om ‘n sub-komitee op die been te bring om oplossings te soek vir die probleem.

Een van die winkeliers in die hawe, Yvette Jackson van Village Vibe sê winkeldiefstal is ‘n probleem en dit het die afgelope twee weke toegeneem.

Van die winkeliers het vertel dat die kinders dikwels in ‘n groep beweeg. Een sal byvoorbeeld na die agterkant van die winkel beweeg en jou aandag aftrek. Die ander aan die voorkant sal dan gryp wat hulle in die hande kan kry, van handsakke tot beursies en selfone. Hulle vertel as jy die kinders aanspreek is hulle aggresief en dreigend. Een van die winkeliers het vertel dat sy al gesien het dat van die kinders messe en skroewedraaiers by hulle het. Volgens haar is dit ‘n kwessie van tyd voor daar ‘n ernstige voorval is.

Verskeie opsies word nou oorweeg wat insluit die moontlikheid van nog kameras in die hawe, ‘n fluitjie waarskuwingstelsel en ander maatreëls soos videokameras in winkels, hekke en borde by winkels wat die reg van toegang voorbehou.

Die polisie het by monde van a.o. Mossie Mostert gesê hy het nagegaan en daar is die afgelope agt en ‘n half maande slegs 26 voorvalle in die hawe aangemeld. Hy het gesê dit is te oordeel aan die vergadering duidelik ‘n skewe beeld van wat werklik aan die gebeur is, en winkeliers gevra om asseblief alle voorvalle aan te meld. Ook pogings tot misdaad. Hy het weer verduidelik dat die polisie se mannekrag en hulpbronne aangewend word na aanleiding van aangemelde misdade. Die eenvoudige waarheid is dat as misdaad nie aangemeld word nie, daar niks gaan gebeur nie.

Mostert het gesê daar is tans ‘n probleem in die dorp met kinders wat misdrywe pleeg. Hy het gesê die polisie mag nie kinders onder die ouderdom van 10 jaar toesluit nie. Hulle mag hulle wel oplaai en in die sorg van hul ouers vrylaat na die geval vir assesering deur die maatskaplike werkers verwys is. Die enigste oplossing vir die probleem is om oor tyd ‘n dossier oor die betrokke kind op te bou en dan vir die hof te vra om hom/haar na ‘n plek van veiligheid te stuur. Dit, het hy gesê, is net moontlik as mense voorvalle aanmeld. As jy ‘n misdaad aanmeld en ‘n verklaring aflê sal jy outomaties ‘n sms ontvang wat die saaknommer en naam van die ondersoekbeampte sal bevat. Gebruik die saaknommer om navraag te doen oor die saak, het hy gesê.

spot_img

Latest Posts

PRAAT MET ONS

    error: Content is protected !!