Ons was in Desember by ons huis op Bettysbaai en gedurende daardie tyd het ek drie waterlekke in die hoofwaterpyplyn in die omgewing van ons huis langs Clarencerylaan aan die munisipaliteit gerapporteer.
Die laaste een het vir dae aanhou loop en toe ek op die ou end gaan ondersoek instel, het ek ‘n klep gevind wat oopgelos was nadat die herstelspan aan die pyp gewerk het (sien foto).
My broer Herman was vir die afgelope twee weke by sy huis (Erf 2605) en het ook gemerk dat daar ‘n waterlek is wat hy verlede week al gerapporteer het. Daar is egter niks aan gedoen nie en toe hy my daarvan sê, het ek hom aangeraai om te gaan kyk of die klep dalk weer oopgelos was. Dit was inderdaad die geval en hy het die klep toegemaak.
Ek skryf aan die Herald om die absolute versuim van die waterherstelspan onder inwoners se aandag te bring. In beide gevalle moes daar derduisende liter water uitgelek het.
Gegewe die omstandighede rondom watervoorsiening in Bettysbaai is dit wat my betref ‘n onvergeeflike versuim aan die kant van die munisipaliteit om verantwoordelikheid te aanvaar en seker te maak dat hulle die klep (wat hoogswaarskynlik geïnstalleer is om die druk te verlig wanneer hulle herstelwerk aan die pyp doen) weer toe te maak as die herstelwerk voltooi is.
Dit is ook vir my baie persoonlik, gegewe dat die munisipaliteit ons destyds R25000 laat betaal het vir ‘n waterlek op ons erf 2599, maar hulle mors self water asof dit uit die mode gaan sonder enige konsekwensies!
Ek sal dit waardeer indien die Herald kan ondersoek instel en my laat weet wat gedoen gaan word om hierdie situasie in die toekoms te voorkom.
Dr Ockert van der Schijf, Massachusetts, VSA
Red: Dr Van der Schijf se brief is vir kommentaar aan die Munisipaliteit Overstrand gestuur, maar teen druktyd het ons nog geen reaksie ontvang nie.