12.2 C
Kleinmond
Sunday, July 14, 2024
spot_imgspot_img

Kleinmonders vertel van Kaapstad fietstoer 2024

KLEINMOND – Die Cape Town Cycle Tour of Argus Fietstoer soos dit vroeër jare genoem is, is op die meeste fietsryers se wenslysie en elkeen het sy eie rede hoekom hy of sy dit wil doen.
As mens begin fietsry klink 109km na ’n byna onmoontlike afstand om op een dag af te lê maar soos jy fikser raak, begin die droom al hoe meer na ’n realiteit lyk, Dan daag die dag op dat jy die eerste keer moet aantree vir so ’n groot byeenkoms – en dit is massief!
Kaapstad word oorgeneem deur ongeveer 30 000 fietse en alles wat met fietse en fietsryers te doen het. Die opwinding is tasbaar en mens kan nie help om saam opgewonde te raak nie.
Die roete begin in die middestad tot in Muizenberg, Vishoek, Simonstad en dan kom die eerste klim teen Smitswinkel uit. Vandaar is dit weer terug aan die westekant van die Skiereiland verby Kommetje, Noordhoek, Chapmanspiek, Houtbaai en die gevreesde Suikerbossie tot by die Kaapstadstadion waar mens eindig en jou medalje met ’n dankbare hart ontvang.

Tipies van Kaapstad se weer weet mens nooit wat jy op die dag gaan kry nie, maar van een ding is jy bykans 100% seker en dit is wind. ’n Ligte windje, ’n bietjie sterker wind of ’n stormwind, maar wind sal daar wees. Gelukkig is dit ’n sirkelroete en iewers moet jy ook die gevreesde wind van agter kry. Vanjaar het die wind ons behoorlik laat werk en net toe ons dink dat hy ons op Chapmanspiek lekker van agter sal ophelp, het die berg gesorg dat die wind ordentlik warrel en jou goed laat sweet – op én af. As jy egter op die uitsig en die ongelooflike gees tussen die fietsryers fokus, gaan selfs die opdraande gou verby. Dit is so ’n groot voorreg om òm die hele Skiereiland te kan ry sonder enige voertuie op die pad – ’n voorreg wat mens net een keer ’n jaar het.

Kleinmond Fietsryklub het 35 lede gehad wat ingeskryf het en ook ’n paar Kleinmonders wat nie lede is nie. Daar was mense wat dit die eerste keer gedoen het, mense wat dit die 26ste keer gery het, mense wat baie geoefen het en mense wat ’n jaar laas op hul fietse was, maar almal het klaargemaak en elkeen het seker’n wonderlike storie om te vertel. Of jy nou die toer onder 3 ure doen of net voor die 7 uur- afsnytyd klaarmaak, dit is ’n ongelooflike ervaring waarvan elkeen van die 30 000 mense kan getuig.

Sover ek weet is al die plaaslike ryers weer veilig terug en maak sekerlik al planne om dit volgende jaar weer aan te pak.

Fietsry is beslis ‘n sport wat mens tot op ’n baie hoë ouderdom kan doen. Heelwat van ons lede wat deelgeneem het is oor 60 en selfs 70 en trap van die jonger fietsryers dat hul tonge uithang.
Welgedaan aan almal wat deelgeneem het. Tilla Boonzaaier

spot_img

Latest Posts

PRAAT MET ONS

    error: Content is protected !!