12.2 C
Kleinmond
Sunday, July 14, 2024
spot_imgspot_img

Klomp skuiwe by Kleinmond SAPD

KLEINMOND – Die plaaslike polisiestasie kry binnekort ʼn nuwe bevelvoerder. Lt.Kol. Anna May, wat tegnies gesproke steeds die bevelvoerder is totdat die nuwe aanstelling gemaak word, het reeds na Oudtshoorn verhuis. Die Kleinmond stasie is reeds ʼn geruime tyd gelede afgradeer na ʼn sg. kaptein stasie. A.o Mossie Mostert neem tans waar.

Slegste nuus is dat twee van die stasie se langsdienende en ervare lede besluit het om op vervroegde pensioen te gaan. Speurhoof a.o. Anton du Preez verlaat die polisie se diens aan die einde van Maart na byna 40 jaar. So ook a.o. Dippie Dippenaar van die uniformtak. Dippenaar was vandeesweek op nagskof, so ons het hom misgeloop, maar sal volgende week meer oor hom berig.

A.o. Anton du Preez

Du Preez het sy loopbaan in die polisie in 1987 begin. Na sy aanvanklike opleiding in Pretoria is hy uitgeplaas na Setlagodi naby die destydse Mafeking. Hy is later ver-plaas na die speurtak op Kimberly, voor hy in 1997 op Kleinmond geland het. Hy is sedert 2019 speurhoof op Kleinmond.

Du Preez was in sy byna 30 jaar op Kleinmond by die ondersoek van haas elke moord en ernstige misdaad op die dorp betrokke. Dit is ʼn deel van Kleinmond polisiestasie se institusionele geheue wat wegstap. Hy ken omtrent elke misdadiger op die dorp se persoonlike geskiedenis. Hy weet waar hulle bly of waar om hulle te gaan soek. Ten spyte daarvan het hy nooit sy empatie met mense verloor nie. Dit is voorwaar ʼn seldsame karaktereienskap. Hy is ʼn rustige mens wat nie meegesleur word deur gebeure nie en kan kophou, selfs onder druk. Hy het gevra ons moet asb.die gemeenskap in die breë bedank vir hul ondersteuning gedurende sy diensjare. “Dit was ‘n voorreg om die mense van Kleinmond te dien”.

Die Herald het oor die jare ʼn vertrouensverhouding met hom gebou en ons het mekaar dikwels aangevul. Een voorbeeld hiervan is toe die dorp ʼn paar jaar gelede deur ʼn groep gewapende inbrekers geterroriseer is. Die Herald se dekking het uiteindelik daartoe gelei dat ʼn taakspan aangestel is om die misdadigers te vang. Hulle is kort daarna aangekeer. Dit is maar ʼn enkele voorbeeld van hoe goeie samewerking tussen die koerant en die polisie vrugte kan afwerp.

A.o Jakes Jacobs, nog ʼn ou bekende, neem die leisels oor by Anton wat weens persoonlike redes besluit het om met vervroegde aftrede te gaan.

spot_img

Latest Posts

PRAAT MET ONS

    error: Content is protected !!