11.1 C
Kleinmond
Tuesday, July 23, 2024
spot_imgspot_img

Laura Wessels se wandelpaadjie langs die see

KLEINMOND – Ons foto van die Laura Wessels gedenkplaatjie in verlede week se Herald het goeie reaksie uitgelok.

Carl Swart, voorsitter van die Kleinmond Natuurbewaringsvereniging het uittreksels oor die geskiedenis van die wandelpad wat in hul tydskrif, Fynbos verskyn het aan ons gestuur, asook ‘n brief van Rena Gardiner, Laura se dogter. Dit is op 16 November 2004 aan die KNBV gestuur toe Rena 83 jaar oud was. Daarin vertel sy hoe haar ma, Laura en dié se broer Freddie de Villiers tien jaar voor Rena se geboorte met ‘n motorfiets en sidecar van Paarl af hierheen gery en twee erwe gekoop het. Daar was destyds net een huis op Kleinmond.

Laura en haar man, Danie het later twee rondawels in Derdelaan gebou en gereeld hierheen gekom. Na Laura se dood het die familie ‘n kort wandelpad by haar geliefkoosde plek gebou. Die familie het dit later op versoek van Burgemeester Prins aan Kleinmond geskenk.

Die berig wat in Fynbos #12 van 1981 verskyn het, vertel hoe die munisipaliteit se natuurbewaringsbeampte, ‘n mnr Langenhoven, gereël het dat die wandelpad verby die preekstoelrots ooswaarts en tot by die Polly Reed-trappies uitgebrei word.

Laura se kleindogter, Laura Gardiner, het vir ons ‘n foto en meer agtergrond gestuur oor haar ouma en haar ma, Rena, wat eintlik die bou van die paadjie geïnisieer het.

Laura Wessels, gebore De Villiers op 26 Augustus 1892 op die Plaas Nederburg in die Paarl, het by die Paarl Girls High gematrikuleer en daarna Botanie bestudeer. Sy het in Rustenburg in die ou Transvaal skoolgehou asook in die Pilanesberg nadat sy met Danie Wessels getroud is.

Hulle het vir 50 jaar in Rustenburg gewoon waar Danie ‘n prokureur was. Hul twee kinders was Willem en Rena. Laura het baie na die Kaap terugverlang, en hulle het besluit om ‘n vakansiehuis op Kleinmond te bou. Die eerste gebou is om en by 100 jaar gelede opgerig – twee rondawels, wat steeds deel uitmaak van die huis in Derdelaan no 10. Hulle het Kleinmond vir 6 weke elke jaar besoek.
In 1947 het hulle die huis heelwat vergroot. Gedurende hierdie tyd het hulle baie familie en vriende daar verwelkom, ook Rena se nuwe man, John Gardiner. Hy was haar gemengde dubbels-maat in tennis en ‘n mediese student in Johannesburg.

John het ook verlief geraak op Kleinmond, en die liefde oorgedra aan hul vier kinders: Laura, John, Marina en Dan, wat tussen 1951 en 1959 gebore is. Die Gardiners het Kleinmond ook elke jaar besoek, gewoonlik oor Kersfees, selfs toe ons oorsee en in Zambië gewoon het.

Ek is die oudste van ons kinders en is na my ouma vernoem. Almal was so lief vir ons dierbare Ouma Laura. Sy het ons vakansies in Kleinmond in magiese tye verander. Haar geliefkoosde plek in Kleinmond was by die rotse waar Rena ná haar ma se dood in 1978 die Laura Wessels Wandelweg laat bou het. Regter Petrus Wessels, Danie se neef, het dit geopen. Elke keer as ons op die wandelweg stap, dink ons aan ons Ouma Laura.

Laura is in Wynberg, Kaapstad oorlede, waar Rena na haar omgesien het. Die hele familie hou steeds vandag vakansie by die rondawelhuis. Die Rondawelhuis behoort nou deur ‘n familietrust aan al die afstammelinge van Laura en Danie Wessels. Rena het die familietrust opgestel. Laura Wessels se kleinseun John het sy eie aftreehuis in Vierdelaan, Kleinmond gekoop.
Laura voeg in ‘n naskrif by hoekom haar van nog Gardiner is: Die eienaardigste ding is dat ek met ‘n man getrou het wat dieselfde naam gehad het as my pa (John Gardiner). Ons het ook deur tennis ontmoet, want ons het albei in die ou Sugar Circuit Tennis Toernooie gespeel. Hy het ook Medies studeer, en daarna Neurologie. Hy het omtrent ‘n jaar gelede afgetree na 34 jaar in Neurologiese praktyk by Constantiaberg Mediclinic.

Kobie Coetzee
spot_img

Latest Posts

PRAAT MET ONS

    error: Content is protected !!