BETTYSBAAI – Die tweeweeklikse mark wat in Oktober verlede jaar deur die Bettysbaaise Belastingbetalersvereniging by die Crassulasaal hier van stapel gestuur is, gaan van krag tot krag.
Die volgende twee markte vind op Saterdag 23 Maart en Saterdag 30 Maart plaas om die skoolvakansie te vang.
By die Herald se vinnige draai by die vorige mark het daar ‘n feestelike gees geheers. Op die pickleball-tennisbaan buite was daar lyndanse aan die gang. Mense het hulself geniet en baie gelag.
Oorkant dié aktiwiteit kon ‘n mens sien dat daar ‘n speelterrein vir kinders voorberei word met swaaie en klimapparaat van hout.
In die saal was daar ‘n groot verskeidenheid produkte te kus en te keur.
Die Herald het met Tessa Bolton gesels oor haar produkte wat sy by haar huis produseer. Sy maak ingelegde jams (konfyt), piekels, olywe, kersies of vye in brandewyn, ingelegde kwepers of ander vrugte volgens seisoen en volgens Ouma se resepte wat met jare se ervaring aangepas en vervolmaak is.
Geskenkpakkies kan uit dié produkte saamgestel word en dan kan dit in ‘n mandjie netjies toegedraai word. Die kontakpersoon vir die Bettysbaaise Gemeenskapsmark is Shameez Joubert, by 073 199 0896.