KLEINMOND – Die bekende skrywer van legendes, rympies, ware stories en versamelaar van Suid-Afrikaanse volksverhale, Wendy Maartens, het Donderdagmiddag 7 Maart die Senior Burgers betower met haar praatjie.
Die gehoor het letterlik aan haar lippe gehang met haar baie interessante aanbieding. Sy moedig gesinne weer aan om stories van hul komvandaan om die etenstafel met mekaar te deel.
Wendy het ’n foto van haar een oupa en ouma op die verhoog geplaas. Haar ouma was ‘n leser en oupa was ‘n baas-storieverteller. Elke mens het ‘n eie unieke storie wat almal inmekaar verweef is. ’n Skoolkind kan ’n storie oor die skoolbaadjie, trui met die gaatjie in, linte, skoene, kosblik vertel.
Elke familie het byvoorbeeld ’n grap wat net hulle verstaan.
Ons alledaagse lewe is vol stories. Voorgeslagte het stories vir kinders nagelaat. Ouers kan kinders na plekke neem wat vir hulle kosbaar was. Dit maak ’n venster van ‘n plek oop. Stories het ’n rimpeleffek wat ’n brug bou tussen die sienlike en onsienlike. Portrette en foto-albums het elkeen ietsie om te vertel. In die hedendaagse digitale era is dit moontlik om foto’s wêreldwyd saam met die storie te stuur.
Wendy droom van die dag wanneer elke dorp teen die laatmiddag ’n storieverteller op die dorpsplein sal hê. Sy het haar praatjie op’n humoristiese wyse afgesluit met My Ma se voorskoot. Elkeen van die prentjies op die voorskoot het ‘n storietjie van sy eie gehad. Koos de Wet