BOTRIVIER – Rechelle Cronjé het ses maande gelede van die Kaap af na Botrivier verhuis en sy bedien nou die hele Overstrand met gespesialiseerde massering, waaronder vir sportbeserings, postuurprobleme en werksverwante kondisies. Buiten haar werk as terapeut, is sy ook ‘n blokfluitspeler van formaat, wat op 12 Mei saam met haar ma, Annette Cronjé, en Marianna Maré as ‘n fluit-en-klavier ensemble in die Guelph-teater in Kleinmond gaan optree.
“Toe ek op skool ‘n aanlegtoets gedoen het, was die uitslag so veelsydig, dat ek moeilik op ‘n studierigting kon besluit. Tale, besigheid, medies … noem maar op. Ek het kopieskryf by ‘n advertensiemaatskappy gedoen, toe in medies sekretariëel ingegaan, waarna ek by ‘n skouerchirurg gewerk het. Hier het ek besef hoeveel mense met sportbeserings en postuurprobleme sukkel.
“Ek is egter ‘n vrye gees wat nie in ‘n 8 tot 5 beroep inpas nie. Terwyl ek steeds by die chirurg gewerk het, het ek ‘n masseringskursus gedoen en in 2018 met my eie besigheid begin,” vertel sy.
Rechelle het nou by haar huis in Botrivier ‘n terapiekamer ingerig. Sy het egter ook ‘n mobiele diens sodat sy mense by hul huise kan masseer. Sy fokus op Hermanus, Caledon en Hangklip/Kleinmond sodat sy ‘n roeteskedule kan uitwerk.
“Ek ry my masseerbed en al my toerusting en olies saam. So kan ek ‘n wye area dek. My bemarking is meestal deur mondelingse verwysing van tevrede kliënte, en ek is dankbaar om te sê dat my besigheid goeie groei toon.”
Rechelle benadruk dat massering nie ‘n quickfix is nie. Dit kan ook nie fisioterapie vervang nie. “Maar as ‘n mens se werk of sport eise aan jou liggaam stel, is massering nie ‘n luukse nie. Dis soos ‘n kar wat gereeld gediens moet word om optimaal te werk. ‘n Mens skuld dit aan jou liggaam.
“Massering hoef ook nie seer te wees om effektief te wees nie. Dit dien om spasma te verlig en gifstowwe by die spiere uit te werk. As jou spiere reg werk, kan jou gewrigte ook weer goed funksioneer. Elke pasiënt se behoeftes is verskillend en ek pas daarby aan. Daarom doen ek vooraf ‘n assessering om byvoorbeed te sien of die heupe in balans is. Sodoende stel ek vas op watter spiere ek moet werk. Pasiënte moet ook vooraf ‘n vorm met hul mediese geskiedenis invul, want ek moet weet as jy allergies vir van die olies is of aan toestande soos rumatiek, lupus, fibro-mialgie, spierdistrofie of iets dergliks ly. En jy moet kummunikeer hoe jy voel terwyl die massering gedoen word. Ek glo daaraan om sagkens te werk, want as dit seer is, gaan die liggaam in refleks en dan help die massering niks.”
Rechelle bied ‘n gevorderde voetmassering aan. Mense besef nie hoe belangrik jou voete is nie. Hoe jy loop en watter skoene jy dra bepaal dikwels hoe jou liggaan funksioneer, sê sy.
Skakel haar by 082 498 3790 of epos na rechelle@truetherapy.co.za.