Hoe meer ek kyk na die veranderende wêreld, hoe dankbaarder is ek dat ek grootgeword het toe ek grootgeword het.
Noú weet ek dat die land waarin ons gewoon het, nie regverdig was vir die meerderheid nie, maar om destyds ‘n kind te gewees het, was wonderlik. Eers in Pretoria en toe in Somerset-Wes. Ons kon net speel en skoolgaan en kind wees. Baie van ons het ‘n hoogs beskermde lewe gelei en dan soos die Engelse sê: Life happened.
Sommige van my klasmaats of kinders vir wie ek skoolgehou het, het ‘n ander lewe leer ken. Min mense kan hul lewe lank in ‘n bubble bly, maar soms is jy gelukkig genoeg om relatief ongeskonde anderkant uit te kom. Storm en Drang en omstandighede raak vir baie te veel, dan neem frustrasie oor en dan kry jy weer so in laat twintigs of vroeë dertigs jou balans. Selfs Francois van Coke sê dit raak beter.
Wat my deesdae pla, hoewel dit niks met my te doen het nie, is hoe die kinders en jongmense die lewe hanteer. Die meeste van ons het, dink ek, relatief ongekompliseerde kinderjare gehad. Soms help dit om wat jou kant toe kom, dalk beter te hanteer. Of nie. Indien jy deur daai storms kon kom, raak dit gewoonlik beter. En vandag? Dwelms klink dit my is geredelik beskibaar en die internet kan in ‘n nagmerrie ontaard.
Daar was nog altyd boelies, maar liewe aarde, deesdae raak die monster soos die Hydra. Wanneer een kop afgekap is, kom daar tien op ‘n ander plek uit. Ai tog. Om dan vir ‘n kind te sê, dit word beter, glo ek nie help veel nie. Jy kan seker maar net jou kinders in die ouerhuis koester, dat hulle weet: die huis is veilig. As die huis wel veilig is, want ek hoor en lees van soveel huise wat allesbehalwe veilig is.
Ek is nie regtig ‘n jobstrooster nie, maar iemand êrens moet vir die kinders kan sê dit word gewoonlik beter. En onderwysers moenie die probleem vererger deur deel van die boeliegemeenskap te wees nie, want ek het al baie van hulle gesien. Daar word gebek-lek en gestertswaai voor ryk mense se kinders, maar gewone kinders word vermorsel. Genadiglik nie dikwels nie, maar dit gebeur. Dan help ‘dit raak beter’ nie veel nie, al is dit waar. As jy die teiken van ‘n boelie is, kan elke dag twee weke lank raak. En die boelie? Ek reken hy of sy het hul eie demone. Maar kan hulle nie hulself uitsorteer nie?
Ai. Al wat ek kan sê, is: Dit raak beter.